Wiskunde in tabletvorm…

tabletevolusie Medium

Middies verwelkom digitale onderrig

Weens tegnologiese vooruitgang moet die onderwysstelsel gereeld ’n nuwe baadjie aantrek. En by Hoërskool Middelburg is dit geensins anders nie.

Maar vergeet van Johan Stemmet se onderbaadjies van die 1990’s, híérdie Middiebaadjie kan lag-lag op ’n moderne loopplank gedra word.

Die skool se handboeke is deesdae in PDF-formaat beskikbaar, en leerlinge kan dié elektroniese handboeke aankoop en op hul tablette of ’n ander slimtoestel aflaai.

MHS voorsien egter steeds elke leerling van “gewone” studiemateriaal; die e-handboek is bloot daar om skoliere se tas-las te verminder (’n kind in graad nege se tas weeg byvoorbeeld 11.50 kilogram - daar was ’n skaal byderhand) én om leerlinge te leer om tegnologie doeltreffend aan te wend.

Boonop sorg dié toepassing, of dan app, dat jy notas en aantekeninge op jou slimtoestel kan maak.

“Ek glo nie dat tegnologie ooit boeke sal vervang nie - dit bly maar lekker om ’n boek vas te hou. Dié is egter net ’n stap om die leerlinge voor te berei vir die digitale wêreld ná skool,” sê Bertus Steyn, een van die departementshoofde en ’n dryfkrag agter die nuwe projek.

Middies se netwerk kan op enige stadium 2000 gebruikers hanteer en leerlinge wat van dié sisteem gebruik maak, word aangemoedig om hul tablet-battery gelaai te hou.

“Ek sê gereeld vir die kinders in my klas dat as hulle weet die toestel se batterye nie gaan hou nie, hulle die laaste twee periodes se handboeke in hul tasse moet pak.”

Maar wat sê die leerlinge?

Volgens Ananja van Zyl is dié toepassing beslis meer gerieflik as jou tradisionele handboek.

“Alles is op een plek beskikbaar en jy vergeet nie sommer jou handboeke by die huis nie!”

Pieter van der Linde kies weer vir watter vakke hy die toepassing wil gebruik.
“Dit werk veral lekker vir vakrigtings soos Wiskunde en Biologie. Vir daaglikse gebruik is die app beslis meer doeltreffend.”

Om ’n bekende sportkommentator aan te haal - vandag se rekord is môre se standaard - en Middies kyk reeds na maniere om op die stelsel te verbeter.

Volgens Steyn is die volgende stap vir leerlinge om hul take en huiswerkopdragte elektronies in te handig.

Die skool besef egter dat dit nie finansieel vir alle leerlinge moontlik is om ’n tablet te bekostig nie.

“Dit is belangrik om te beklemtoon dat dit ’n opsionele stelsel is: die elektroniese handboeke is net daar as hulle dit wil gebruik,” sluit Steyn af.

• Die e-handboek is tussen 20% en 30% goedkoper as die aankoop van ’n slapband-handboek.