middies sport

Ander

ONDERWATERHOKKIE

Doele onder die water...

Ses Middies in silwerspan

“Wat presies is onderwaterhokkie?” word daar Dinsdag vir MHS se Migael Henning gevra.
Die 16-jarige kaptein van Mpumalanga se 2015 o/19-span dink ’n oomblik, voor hy sy selfoon uithaal en ’n video wys waar twee spanne met snorkels en vinne mekaar soos ’n skool beduiwelde en blitsige visse die stryd aansê.
Dít is die beste manier om dié sportsoort te verduidelik.
Saam met Migael is daar ses MHS-spelers (Pieter Marais, Abraham Koekemoer, JP van der Linde, Iain Zwart en Tiaan Roodman) wat deel was van die Mpumalangaspan wat die silwer medalje by die Nasionale o/19-kampioenskap in Durban losgespeel het
Die span het met vier doele in die eindstryd teen Gauteng-Noord verloor - ’n unie wat, volgens Henning, baie sterk is en gereeld die meeste nasionale spelers oplewer.
Maar Henning en kie kan trots wees op hul vertoning. Drie jaar gelede het hulle met die houtlepel in die kampioenskap weggestap en verlede jaar het hulle derde geëindig, voor vanjaar se silwermedalje-heldedade.
“Onderwaterhokkie is die enigste driedimensionele sportsoort waar jou teenstander óf onder, óf bo, óf langs jou kan wees. En o ja, daar is ook nie iets soos ’n onkantreël in dié sport nie!”
Dit word twee meter onder die water in ’n 12x25m-swembad gespeel. Spelers is toegerus met ’n snorkel, maar gaan gereeld na die oppervlak om suurstof te kry. “In die begin raak mens maklik benoud, maar hoe meer en langer jy speel, hoe makliker word dit,” verduidelik Henning wat reeds drie jaar se onderwaterhokkie-ervaring het.
Kommunikasie tussen spelers kan moeilik wees en spanne word uitgeken aan die kleur van hul swemkappies en stokkie (swart of wit).
Is dit ’n gevaarlike sport?
“Die vrouens se wedstryde is meer strategies, terwyl die mans se kragmetings baie fisies is. Ons word gereeld deur vinne gesny en teen swembadmure gestamp. As jy egter vinniger as die res is, sal dit nie sommer gebeur nie.”
In Middelburg word daar by die Kees Taljaard Stadion geoefen. Weens die wintermaande is die seisoen baie kort - van Oktober tot Februarie - wat beteken dat die oefensessie uiters doelgerig is.
“Spanne wat ’n binnenshuise swembad het, kan heeljaar oefen en speel.”
Verlede jaar brons, vanjaar silwer...Die volgende logiese stap is om die goue medalje in 2016 te wen.

• Die span se afrigters
Phillip Henning en Andries Fourie (voormalige SA o/23-afrigter) het tydens die kampioenskap die afrigtersaflos gewen.