Fasiliteite

(Astro)nomiese hokkiedroom word waar

DJI 0519 1 Medium

Deur Chané Grey

“If the grass looks greener on the other side, it probably is the astro turf.” Dít is wat Middies se hokkiespelers kan sê nadat die langaverwagte droom vir ‘n hokkie-astro bewaarheid is.
13 Oktober 2018 is beslis ‘n dag wat sal uitstaan in Middelburg Hoërskool se bestaan van 100 jaar. Die opening van die splinternuwe waterastro het afgeskop in gietende reën toe ongeveer 70 laerskool hokkiespelers die voorreg gehad het om die eerste wedstryde op dié langverwagte droom te speel.
Baie oud-Middies het ook deel uitgemaak van die pret en het vir die huidige Middie-spanne ‘n ding of twee gewys. Die ouers het lank voor die tyd begin oefen, maar die onderwyserspan het gewys waar Dawid die wortels begrawe het en hoekom húlle die afrigters is en nie die ouers nie.
Middies het selfs die voorreg gehad om die kaptein van die SA-vrouehokkiespan, Nicolene Terblanche, as eregas by die astro-opening te hê. Sy was deel van een van die uitnodigingspanne en die toeskouers kon haar passie vir hokkie beleef. Ongelukkig het die hoofwedstryd tussen die Old Boys en die huidige eerste seunshokkiespan uitgereën.
Hierdie dag is met die hulp van verskeie borge en bydraes deur heelwat mense uit die gemeenskap moontlik gemaak. Daarvoor bedank MHS elkeen.
MHS staan nie verniet bekend as die “Middelburg Hokkie Skool” nie. En daarom is dit net reg dat Middelburg Hoërskool die eerste skool in die dorp is wat met ‘n astro kan spog.

Kontak Mnr. Coena Swart by 013 282 7393 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. vir meer inligting.