Van ’n karateka tot ’n koning…

Jandré is tuis in enige rol!

unnamed 76Skielik spring Jandré Greyling op om sy kroon in die skoolsaal te gaan haal. Die 17-jarige Middie vertolk die rol van ’n ietwat gewetenlose koning in die skool se blyspel, Wonder bo Wonder. En ’n lid van die adelstand moet mos sy kroon dra as hy ná ’n onderhoud vir ’n foto poseer, of hoe?

Die volgende vraag in Middies se bemarkingskantoor – oor sy akademiese prestasie, van alle dinge – laat hom egter éffens ongemaklik rondskuif.

“Dit is vir my moeilik om te sit en leer,” sê hy terwyl hy nederig die kroon van sy kop afhaal en langs hom op ’n stoel neersit.

Sy aandag word maklik afgelei en sy skooltas is vol klein boekies waar hy net lukraak dinge neerskryf.

“Ek is egter goed in dinge wat mens moet verstaan. My wiskundepunt is byvoorbeeld 93%!” onthou hy terwyl die kroon weer terstond terug op sy kop geplak word.

Daarna word hy oor sy vermoë op die sportveld uitgevra; waar hy al min of meer elke denkbare sportsoort uitgetoets het – van ’n bietjie rugby en tennis tot hokkie. Heng, hy het provinsiale kleure in gimnastiek en het selfs die afgelope naweek ’n silwer en goue medalje by die nasionale karate-kampioenskap in Johannesburg losgeslaan.

Maar waar karate jou waarskynlik kan help om jou teenstander planke toe te stuur, is dié Middie nog méér tuis op die verhoogplanke. Trouens, dit is waar hy sy niche gevind het.

Hy vertel dat sy toneelloopbaan in graad sewe by Laerskool Middelburg begin het en ná dramaklasse by Karbinna, ’n paar hoofrolle in Middieproduksies en ’n sterk vertoning of twee by die Eisteddfod, pas die dramakroon hom soos ’n handskoen.

“Ek is mal daaroor om ’n goeie storie te vertel of na een te luister. Soos ek gesê het, ek geniet dit om te skryf en ek wil graag eendag die teks vir ’n toneelstuk neerpen.”

Daar word gesê dat improvisasie een van ’n akteur se sterk punte is. En Greyling beaam dié stelling heelhartig.

“Ek het al male sonder tal my woorde vergeet. Maar ek sê egter nie net die woorde nie, ek probeer om die gevoel oor te dra. En dit is híér waar improvisasie my baie handig te pas kom.”

Verskillende aksente is ook ’n teken van veelsydigheid en Greyling spog met ’n lekker verskeidenheid. ’n Britse aksent is egter sy gunsteling.
“Especially a Londoner’s accent. The vowels and all the sounds are pronounced differently,” sê hy terwyl hy moeiteloos na Engels oorsakel.

En jy kan dit maar gaan gaan Google. Die Londenaars klink wragties so.

Wonder bo Wonder spog met ’n hele paar indrukwekkende choreografiese dansbewegings, is hy dan ewe tuis op die dansvloer as op die verhoog?

“Ek kan kata op die karatemat doen, maar ek het nie ’n enkele ritmebeen in my lyf nie. Ek is egter mal oor die verhoog en om mense te vermaak,”

Dan verkies hy ’n televisiereeks bo ’n fliek.

Jandré Greyling1 Large

“Hulle prober altyd om  soveel as moontlik ontploffings en vry-tonele in ’n fliek te druk, terwyl jy met ’n reeks kan sien hoe ’n karakter ontwikkel.”

Hy beplan om na skool bedryfsingenieurswese by TUKS te studeer, maar mens kry die gevoel dat die akteursbloed sterk deur sy are vloei.

En in Jandré Greyling en kie, spog MHS beslis met toneeladelstand.
• ’n DVD van die blyspel (in HD nogal) sal besikbaar wees teen R220. Vir meer inligting, bel Louisa by 013 282 7393.