Kultuur

Kultuur Ander

Fotografieklub

Middies het 'n baie aktiewe fotografieklub , hier word geleenthede geskep vir leerders om hul eie kameras beter te leer ken. Hou die kalender dop vir die volgende datum wanneer ons fotografieklub bymekaarkom.

christaetlenei

Eisteddfod

Middelburg Hoërskool is bevoorreg om elke jaar die Nasionale Eisteddfod tydens Augustus aan te bied. Ons nooi graag alle Kultuur leerlinge uit om te kom deelneem aan hierdie gesogte kompetisie. Ongelooflike talent word hier ontdek en die wenners van elke kategorie word dan uitgenooi na die prestige Gala-aand van die Nasionale Eisteddfod. MHS palm jaarliks stringe diplomas en goue sertifikate in, in verskeie kategorieë.

Die Nasionale Eisteddfod, Talent Africa, Artium en SATCH is net ‘n paar van die kunstefeeste waar Middies presteer. Caylee Hannay en Elsje-Mari Breytenbach het verlede jaar in die Top 10 van die provinsiale ronde van die Nasionale Eisteddfod geëindig. Ons wil nou nie te veel spog nie, maar Middies is al vir die afgelope drie jaar ook onder die Top 10-skole in die provinsie en in 2015 eindig MHS met die vyfde hoogste gemiddeld van al die deelnemende skole en studio’s.

Koor

Die skoolkoor (onder leiding van tannie Bets du Plessis) is die perfekte medium om jou stem te oefen en verder te ontwikkel. MHS kan ook spog met die meeste Mpumalanga Jeugkoorlede uit Middelburg: Gr.12: Edward Mkhwanazi, Bertha Twerefoo, Kia Mokwena, Nonto Mondlane. Gr.11: Ronet Viljoen. Gr.10: Michelle Harmse. Gr.9: Leanie Viljoen. Gr.8: Calika Reynierse. Een van die hoogtepunte vir die jaar was definitief hulle optrede by die nuwe film Uitvlucht se première, waar hulle die temalied “Bou aan liefde” saam met Vaughan Gardiner gesing het.

Debat

Middies spog met 5 debatspanne

Deur Johanette Steele

By Hoërskool Middelburg is deelname aan debat nog in sy babaskoene aangesien dit ‘n nuwe kultuuraktiwiteit is. Die debatteerders het egter baie geleer en hulle goed van hulle taak gekwyt.
Onder die bekwame leiding van juf. Susan O’Reilly en Michélle van Wyk, het Middies hierdie jaar vir die eerste keer aan die ATKV-debatkompetisie deelgeneem en nie minder nie as 5 spanne ingeskryf. Die eerste ronde het op 25 en 26 Mei te Hoërskool Generaal Hertzog plaasgevind.
Die juniorspanne se debat het gehandel oor of suikerbelasting tot voordeel is van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die een span - Johanette Steele, Giovanni Koster en Nadine Liddle - het teen HGH gedebatteer, terwyl die ander span - Brady Welthagen, Hanlie de Vaal en Douglas Thompson - die saak teen Hoërskool Nelspruit moes besleg.
Giovanni Koster sê die volgende oor die ervaring: “Sweet het getap en woorde was gegooi, maar op die ou end het ons as ‘n span saam gedink en vinnige besluite geneem wat tot sukses gelei het.”
Die seniorspanne het gedebatteer oor of ‘n verswakte staat die betrokkenheid van die burgerlike samelewing noodsaak. Willem Kurpershoek en Kyra Erwee, sowel as Tamicke Clark en Greta Kurpershoek, het teen spanne van Nelspruit te staan gekom. PJ Linde en Wilna Steenkamp moes hulle man staan teen ‘n span van HGH.
Wilna Steenkamp sê die volgende: “Van kleins af gee redenaars my die geleentheid om standpunt in te neem en my argument aan iemand oor te dra, maar debat gee jou die geleentheid om dit sáám met iemand te doen – dit is wat debat ongelooflik lekker maak. Debat het my geleer om op my voete te dink en my die vaardigheid laat ontwikkel om my siening oor ‘n saak op iemand af te dwing. Debat het my vrye teuels gegee en my toegelaat om my manier van dink uit te druk op papier en aan ‘n gehoor. Verder het dit my forseer om op hoogte te bly van aktuele sake en wêreldnuus. Om te kan debatteer is ‘n lewenslange vaardigheid wat ek aan enigiemand sal voorstel om te ontwikkel.”
Uiteindelik het Tamicke Clark en Greta Kurpershoek deurgedring na die semi-finaal van die ATKV se debatskompetisie – wat ‘n puik prestasie!
 
Debat Medium
Greta Kurpershoek en Tamicke Clark is deur na die tweede ronde (Mmupalanga-finaal) in die ATKV-debatskompetisie.