Groen vennote

Groen Vennote

Eeufees 2018

Eeufees cover

Michelin Ster vir oud-Middie Jan-Hendrik van der Westhuizen

JHJan-Hendrik van der Westhuizen is ‘n oud-Middie op wie ons baie trots is. Hy het presies gedoen wat ons hier by Middies leer, nl. om nie bang te wees om te droom nie. Vandag het hy sy eie restaurant in Nice, Frankryk, en hy is die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n Michelin Ster ontvang het. Jan-Hendrik het die volgende vrae vir Rissiepit beantwoord:

Vertel vir ons kortliks van die toekenning wat jy ontvang het en hoekom dit so ‘n wonderlike prestasie is.

‘n Michelin Ster is soos ‘n Oscar in die koswêreld. Dit is die grootste toekenning waarvan ‘n sjef kan droom. Jou waardes, tegniek en elke aspek van die ervaring by jou restaurant word erken. Dit neem ‘n normale sjef soms ‘n leeftyd om ‘n ster te kry. Ek is baie geëerd om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat ‘n Michelin Ster in die geskiedenis van Michelin ontvang.

Vertel vir ons van jou restaurant - waar dit is, die naam, disse, hoekom dit so ‘n gewilde plek is.

Wel, ek weet nie of dit só gewild is nie, maar ons doen iets reg. My restaurant se naam is JAN. Trots Suid-Afrikaans! In Nice, in die Suide van Frankryk, omtrent 20 minute van Monte Carlo. Disse wat ek bedien is Frans met ‘n invloed van my “heritage”. Ons verander die spyskaart baie. Op die oomblik is daar Peppermint Crisp-tert, biltong, vetkoek, mosbolletjies en ook baie Suid-Afrikaanse wyne. Ons het nou so baie Suid-Afrikaners wat by ons kom eet. Dis HEERLIK!

Wanneer was jy in MHS en wanneer het jy matriek geskryf?

Ek was in 1996 ‘n groentjie in MHS en dit was die beste jare van my lewe! Ek het in 2000 gematrikuleer.

Wat was jou gunsteling vak en hoekom?

Sonder enige twyfel was dit Hotelhouding en Spyseniering en Kuns. Ek kon myself uitleef en het geweet ek gaan dit wat ek toe leer in my toekoms gebruik. Dit was elke dag ‘n plesier om skool toe te gaan!

Wie was jou gunsteling onderwyser en hoekom?

Juffrou Duvenage; sy was so cool! Dit was altyd soos om in ‘n studio in New York in te stap as mens in haar klas kom. Ek het met al die onnies baie goed oor die weg gekom en het nog steeds vir hulle almal ‘n sagte plekkie.

Is jy ‘n trotse Middie en hoekom?

Middies het gees. Ons het stamina en ons weet hoe om uit te hou! Ek voel nog altyd soos ‘n Middie en ja, soms neurie ek nog in my kop die skoollied. Dit wys net vir jou!

Wat het jy by MHS geleer wat jou voorberei het vir die lewe na skool?

Ek het aan elke aktiwiteit moontlik deelgeneem wat daar was, of ten minste probeer. En dit was ‘n les op sy eie. Probeer alles. Dink uit die boks. Maak vriende; my beste vriende is nog van skooldae.

Wat is jou leuse in die lewe?

Ek is nie bang om ‘n fout te maak nie. Ek sal liewers iets doen en ‘n fout maak as wat ek dit glad nie gedoen het nie en vir die res van my lewe sal spyt wees. Wees jouself. En skryf jou eie storie.

Het jy ‘n rolmodel? Wie en hoekom?

Ja, my ouers. Hulle ondersteun my nog altyd, van dag een af. Ek kan soms weird wees, soms weird idees hê, ek kan selfs ook nie soos die normale mens dink nie; tog verstaan hulle my altyd.

Enige spesiale boodskap aan Middies?

Almal sê dit, maar dammit! Skool gaan te vinnig verby! Geniet dit terwyl julle daar is. Dis die laaste paar jare wat jy het voor jy die REGTE wêreld slaan. Fokus, wees nie altyd te soet nie, los jou merk en maak seker jy kan terug kyk en sê, ek het ‘n GREAT tyd gehad gedurende my skoolloopbaan!

Kriekie van Wyk speel steeds hokkie in groen en goud

Kriekie1Op skool het Kriekie van Wyk die hokkiedoele laat klap toe sy in die groen en goud van MHS gespeel het. Deesdae speel sy steeds in groen en goud, maar nou laat sy die doele klap vir die 0/21-Proteaspan. En as sy nie hier in Suid-Afrika besig is met oefening saam met die Proteaspan nie, is sy in Amerika waar sy studeer en ook hokkie speel. Kriekie het die volgende vrae beantwoord:

Jy is gekies vir die 0/21-Proteaspan. Beskryf vir ons die gevoel toe jy by die span ingesluit is.

Mens kan nie daai gevoel beskryf nie. Trane van blydskap! Ek kon nie ophou huil en glimlag terselfdertyd nie.

Watter posisie speel jy en oor watter spesifieke vaardighede moet jy beskik om hier te kan speel?

Striker, mens het spoed en visie nodig vir die spesifieke leads wat mens moet maak.

Vir watter universiteit in Amerika speel jy ook hokkie en watter posisie speel jy daar?

The University of the Pacific. En ook striker.

In watter rigting studeer jy?

HESP - Health Exercise and Sports Science.

Vertel vir ons so ‘n bietjie van die universiteitslewe in Amerika.

Wel, dis amper presies soos wat mens in movies sien! Definitief baie anders as SA, maar dis lekker. Almal is baie sosiaal en wil mens beter leer ken. As jy Afrikaans is, sukkel mens so bietjie met die Engels, maar ,n mens het darem Engelse vriende daarvoor.

Geniet jy dit in Amerika of verlang jy maar baie huis toe?

Ek geniet dit, ja. En natuurlik verlang ek. Jou land bly jou land en ek meen, nie enige land kan spog met hulle lekker biltong en steaks nie. En soms raak ek homesick, maar my vriende daar anderkant maak dit makliker.

Hoe het die opvoeding en onderrig wat jy by MHS ontvang het jou voorberei vir die lewe na skool?

Wel, die mense het my baie geleer hoe om verantwoordelik te wees en hoe om op te tree in sekere situasies.

Wat maak dat MHS se hokkie so goed is?

Die afrigters speel ‘n groot rol, want hulle is passievol in dit wat hulle doen. Die spelers is ook altyd bereid om hard te werk en beter te word.

Waar kom die naam “Kriekie” vandaan?

My oumagrootjie het my die bynaam gegee.

Wie is jou rolmodel en hoekom?

Nicolene Terblance. Sy is my hokkiementor op die oomblik en iemand na wie ek nog altyd kon opkyk, veral oor sy ook so passievol is oor haar hokkie. Sy’s hardwerkend en baie plat op die aarde.

Enige spesiale boodskap aan Middies?

Wees vry. Geniet skool en maak die beste van elke oomblik. Never forget that God’s got your back.

Dr. Nadine se hart klop warm vir pasiënte

Nadine 5 LL ZN

Wanneer jy by dr. Nadine Jooste se spreekkamer instap, word jy met ’n helder glimlag ontvang wat sorg dat jy byna van jou verkoue vergeet.

Dié oud-hoofdogter van Hoërskool Middelburg gee werklik vir haar pasiënte om, kom jy sommer gou agter.

“Jy moet bereid wees om ’n pad met mense te stap en hul héle prentjie in te kleur. Dit is iets wat deesdae baie maklik verlore gaan.”

Na haar jare by MHS het sy keuring by MEDUNSA gekry om medies te studeer en sy het haar gemeenskapjare by Chris Hani Bragwanath Hospitaal gedoen – die derde grootste hospitaal ter wêreld.

En dit is létterlik ’n mediese drukkoker: daar is ’n gemiddeld 160 pasiënte per maand wat koeëlwonde het en daar is meer as 350 noodgevalle. Elke dag.

“Dit was aanvanklik intimiderend, maar tog ’n baie goeie leerskool en ’n tydperk wat ek vir niks sal verruil nie. Bara raak amper soos jou tweede huis as jy so lank daar is.”

“Dr. Nadine”, soos sy deur inwoners gedoop is, het by die staat aangebly en in psigiatrie gespesialiseer. Sy is tans besig met haar diploma in dié mediese rigting by die Universiteit van die Witwatersrand.

“Ek kry met pasiënte te doen wat met angs en depressie sukkel, of selfs aan skisofrenie of verslawing ly. Dit beteken vir my só baie as ek mense kan help.”

Maar jy moet ook nie die waarde van ’n algemene praktisyn onderskat nie, maan sy.

“Spesialiste fokus byvoorbeeld net op kinders, óf ’n spesifieke mediese kwessie. Daarteenoor moet jou huisdokter kennis oor ’n breë spektrum mediese aangeleenthede hê. En dit is nie altyd so eenvoudig soos wat dit lyk nie.”

Wat is ’n dokterspreekkamer nou sonder lekkergoed vir die jongspan? En op haar lessenaar is daar omtrent ’n emmer vol suigstokkies.

“Hoe dan anders? Ek het ’n baie sagte plekkie vir kinders in my hart en deur bloot net na die dokter te kom, verdien hulle al ’n suigstokkie!”

Natuurlik het sy ook net lof vir haar oud-skool. Buiten haar akademiese prestasies, was sy ook op die atletiekveld in aksie, het provinsiale tennis gespeel én vir die eerste dogtershokkiespan uitgedraf.

“Omdat my pa ’n melkery besit het, was my bynaam ’n effens voorspelbare ‘Melkie’. As dinge egter spannend op die hokkieveld geraak het, het juffrou Rachel MacDonald dié bynaam luidkeels na ‘Mééélk’ verander,” onthou sy laggend.

Die tyd by Laerskool Staatspresident C.R. Swart en Hoërskool Middelburg het duidelik vir die perfekte boustene vir haar mediese loopbaan gesorg en sy het in April 2015 terug na Middelburg getrek en praktiseer by Drs. Van Rensburg en Vennote.

“Die wete dat ek ’n verskil in iemand se lewe kan maak, laat my in die oggende met ’n glimlag opstaan. Ek lééf my passie hier in Middelburg. Dit is wat ek nog altyd wou doen,” sluit sy die onderhoud af met ’n glimlag nét so warm as waarmee sy jou gegroet het.

Een ding is seker: dr. Nadine Jooste kan nie net ’n stetoskoop laat goed lyk nie; sy laat élke pasiënt (jonk én oud) beter voel.

• Sy het gedurende Juniemaand ’n Botox- en fillerwerkswinkel deur dr. Mauricio de Maio (plastiese chirurg van Brasilië) in Kaapstad bygewoon.

Reünie 2016

Reunie program 2016 Medium

#weallbelong

ouma Piet en tannie Toi Frewin Medium

Me. Pieternella du Preez en me. Toi Frewin
Reünienaweek 2016… 11 tot 13 Maart 2016… ʼn Naweek vol herinnering. Dis ’n naweek wat ingestel is in afwagting op die skool se 100ste verjaarsdag in 2018. Reünienaweek is jaarliks ’n gesellige byeenkoms van oud-leerders en hierdie jaar was geen uitsondering nie: Trotse Middieharte - oud en jonk - het warm geklop.

Die naweek was ’n warboel van verrigtinge. Vrydagoggend het drie matrikulante van 1996, mnr. Nico Robertse, me. Marliese Beneke en me. Marieline van Deventer, hulle Middie-ervarings in die klasse met leerlinge gedeel. Later die dag in die saal het Leandé Kotze (onderhoofdogter 2006) die leerlinge toegespreek. Middies het geleer dat almal deel is van die Middie-familie en dat jy jou identiteit in Christus moet vind.

Vrydagaand kon elkeen deel in die pret met ʼn “wine and food pantry”. Jan-Hendrik van der Westhuizen, wat onlangs die Michelin Ster ontvang het, het sy nuutste boek bekendgestel.

Beide Vrydag en Saterdag het Middies se sportspanne teen Hoërskool Hugenote gespeel en is hulle heelhartig ondersteun.

Die Saterdagaand het die matrikulante van twintig jaar gelede, 1996, hulle eie funksie in die rugbyklubhuis gehad. Sondag, 13 Maart, is die pragtige naweek afgesluit met ’n erediens in die skoolsaal. Dit is waargeneem deur pastoor Letonea Barnard. Die boodskap was: “As jy geanker is in die krag van Christus, kan geen stormwind jou omwaai nie.”

Dwarsdeur die naweek was matrikulante van verskeie jare teenwoordig, onder andere 1963, 1964, 1966, 1976 en 2006. Die oudste (en wysste) oudleerling wat saamgekuier het, was me. Pieternella du Preez - met ’n volle 89 jaar se lewenswysheid!

Gedurende Reünienaweek 2016 is daar met Middiegees gekuier, gelag en gespeel. As Middies, of dit nou leerlinge, ouers of oudleerlinge is, weet almal: #weallbelong. Almal is deel van die groot, groen Middiefamilie.

Come back to your roots - Reünie

Middies hou jaarliks reünie ...

In 2018 vier Middelburg Hoërskool hul 100ste bestaansjaar!

En om die bal solank aan die rol te sit, het die skool besluit om jaarliks ’n reünie te hou sodat hulle reeds al die oud-Middies kan nader en betrokke kry.  Geen oud-Middie mag die feesvieringe misloop nie!

 Met só ryke geskiedenis, erfenis,  tradisie en historiese geboue, is dit heerlik om weer saam te kuier en te luister na al die staaltjies,  getuienisse en groot gebeurtenisse.  Nuwe vriende word gemaak, vriendskappe word gesmee en lang verlore vriende word weer opnuut ontdek. Middies se lewe draai om herinneringe … want ons leef dit! 

Die lekkerste van die afgelope reünie was die gevoel om te weet jy hoort iewers…van jonk tot oud het een ding in gemeen ...’n liefde, passie en hart vir Middelburg Hoërskool. ALMAL IS ’n MIDDIE!

Die reünie sal voortaan oor ’n volle naweek gehou word.  ’n Lekker kuieraand vir alle jaargroepe, saam sport ondersteun en kerkdiens die Sondag.

Hoe meer siele, hoe meer vreugde.  Hoop u sal elke jaar deel wees van die groot gebeurtenis! 

Kontak MHS vir enige navrae rondom die reünie.

Herinneringe word gelééf met reünienaweek

reunie Medium


Mnr. André Brandmüller.

Die naweek van 27 Februarie tot 1 Maart 2015, het ‘n klompie oudskoliere deel gevorm van ‘n nuwe tradisie – die jaarlikse Reünienaweek. In 2018 vier Middelburg Hoërskool hul 100ste bestaansjaar en om die bal solank aan die rol te sit, het die skool besluit om nou al te begin met ’n jaarlikse reünie sodat daar niemand is wat die 100 jaar-feesvieringe gaan misloop nie.

Ses oud-Middies het gedurende skooltyd met ‘n paar klasse kom praat en die leerders aangemoedig om te streef na hulle drome en altyd die beste in ‘n situasie te sien. Een van dié oudleerders is dr. Francois Jordaan wat in 1975 gematrikuleer het. Hy het al die pad van Kent in Engeland gekom om te vertel waar sy lewenspaaie oral gedraai het na matriek. Hy is ‘n tandarts van beroep. Lionel Cass, bekende boer in die Middelburgdistrik, se hele familie, selfs sy ouma en oupa, is oud-Middies. Nog ‘n oud-Middie wat met die leerders kom praat het, is mnr. Marthinus de Jager wat ook in 1975 gematrikuleer het. Hy is vandag ‘n geoktrooieerde rekenmeester.

Tydens ‘n spesiale saalopening later die dag het Ruan van der Merwe, hoofseun van 2005, ‘n inspirerende boodskap gelewer. Baie oudleerlinge het hierdie saalopening bygewoon. Die aand was daar ‘n spoggerige reüniedinee in Voorspoedsaal waar hegte vriendskapsbande weer hernu en gesmee is.

Vroeg die Saterdagoggend het die trotse oud-Middies die jonges op die sportveld ondersteun tydens die jaarlikse wintersport teen Ermelo Hoërskool. MHS het weereens bewys dat daar beslis rede is om trots te wees op die span in groen en goud.

Na die sport was daar ‘n gesellige bring-en-braai. Almal het heerlik saam gekuier en daar is tot laat staaltjies vertel en nuus uitgeruil.

Op Sondag 1 Maart is die reünienaweek op gepaste wyse afgesluit met ‘n pragtige kerkdiens in die skoolsaal. Jamon Snyman, hoofseun van 2002, het die diens waargeneem.

Almal was dit eens: die wete dat jy iewers behoort, was die lekkerste van hierdie reünienaweek. Almal se harte het met dieselfde ritme geklop vir Middelburg Hoërskool en volgende jaar se reünienaweek gaan beslis nóg groter en beter wees met nóg meer nuwe ou gesigte.

Van MHS-hoofdogter tot spogdokter

Daar word gereeld gesê dat oud-leerlinge ’n belangrike rol in ’n skool se suksesverhaal speel. As dit die geval is, het Hoërskool Middelburg ’n besonderse hoofstuk in dr. Nadine Jooste.

nadine joosteDie MHS-hoofmeisie van 2003 is terug in die dorp waar sy as dokter by Drs. Van Rensburg en Vennote praktiseer. En haar jare by Middies het vir die perfekte loopbaanboustene gesorg.
“Ek verlang baie na my hoërskooldae. Dis is ’n kosbare tyd in jou lewe,” sê sy Vrydagoggend in haar spreekkamer.
Buiten haar akademiese prestasies, was sy op die atletiekveld in aksie, het provinsiale tennis gespeel én vir die eerste dogtershokkiespan uitgedraf.
Omdat haar pa ’n melkery besit het, was haar bynaam op skool ’n effens voorspelbare ‘Melkie’.
“As dinge egter spannend op die hokkieveld geraak het, het juffrou Rachel MacDonald dié bynaam luidkeels na ‘Mééélk’ verander,” onthou sy laggend.
Was sy stout op skool?
“Nee, ek was te bang! Maar daar was soveel hoogtepunte – soos jou graadagtkamp, die leierskamp – daar is net te veel om op te noem.”
Sy is ook net vol lof vir die skoolhoof, mnr. Johan Stronkhorst.
“Hy is ’n fantastiese hoof en ek onthou hoe hy letterlik elke kind se naam geken het. Ek het nog nie ’n hoof gesien wat soveel passie vir sy skool het soos hy nie. Dinge gaan net vorentoe met hom aan die stuur van sake.”
Na haar Middiejare het sy keuring by MEDUNSA gekry om medies te studeer. Sy het haar gemeenskapjare by Chris Hani Baragwanath Hospitaal gedoen – ’n tydperk wat sy vir niks sal verruil nie.
“Dit was aanvanklik intimiderend, maar tog ’n baie goeie leerskool. Ek het na dié jare by die staat aangebly en in psigiatrie gespesialiseer.”
Maar, in haar eie woorde, het die platteland haar net te veel getrek en sy is sedert Aprilmaand weer terug in die dorp.
Waar baie van ons omtrent met die aanvang van elke skooljaar ’n nuwe loopbaanrigting wou inslaan, het sy van kleins af geweet dat sy ’n dokter wil word.
“Ek het net ’n passie vir mense en jy kan in hierdie beroep soveel vir iemand beteken.”
Sy is van 08:00 tot 16:30 in haar spreekkamer.
“Dit is belangrik dat pasiënte holisties behandel word. Jy moet ’n pad saam met hulle stap.”
Sy is passievol oor psigiatrie en beplan om haar diploma daarin te doen. Verder onderneem sy ook Botox-behandeling vir pasiënte wat daarna vra.
Gaan sy volgende jaar se derbystryd tussen Middies en HTS Middelburg bywoon?
“Natuurlik. Hopelik as ’n spandokter,” sê sy met ’n groot glimlag.
Dr. Nadine Jooste se Middiehoofstuk sal dus vir seker vir nog ’n paar lekkerlees paragrawe sorg. Sy is immers ’n reuse aanwins vir die dorp.

skolebylaag halfblad typography

Oud Middie presteer

Mart-Mari de Bruyn matriculated at Middelburg Hoërskool end of 2010.   She passed her grade 12 with 8 distinctions.
She entered her studies at Rhodes University in Grahamstown, in the BSc field.
After completing the first year, she was recommended to the Golden Key International Society (to which she subscribed).   Only the top 15 % of students get to subscribe to this institution.  She already received distinctions to all her subjects at the end of the first year, and was also placed on the Deane’s list of merit.
Mart-Mari also obtained distinctions to all her subjects at the end of her second year, and was once again placed on the Deane’s list of merit.
At the end of the third year, she passed her degree with 2 distinctions.   She had 2 major subjects during this year :  Microbiology and Biochemistry.
For this excellent results, Mart-Mari was awarded the following :-
Academic Honours
Andrew Mellon Foundation Postgraduate Scholarship – Honours
Dr Kendall Scholarship
Rhodes University Honours Degree Scholarship
Mart-Mari graduated on 12 April 2014 at Rhodes University, Grahamstown (see the attached graduation photo).
She is currently busy with her Honours Degree in Microbiology.
Mart-Mari has also been selected as sub-warden in her residence (Hobson House) since January 2013.
She is a proud ex product of Middelburg Hoërskool .

Boodskappe van Oud-Middies

Wynand Claassen :

Middelburg Hoër het 'n ongelooflike geskiedenis en unieke tradisie van bykans 90 jaar. Daar het groot name op daardie banke gesit en wat diep spore op alle gebiede in die samelewing getrap het.

Dat die skool die laaste klompie jare vanuit 'n benarde posisie opgestaan het, het wondere vir die skool beteken. Deur toewyding en die regte besluite te neem, het die hoof en personeel weer begin om die tradisie te laat herlewe en met ander groot skole te kan kompeteer op alle vlakke.
Nou is die tyd om die tradisie na die volgende vlak te neem deur menige oud-leerlinge regoor die land te mobiliseer om 'n bydrae te lewer.

Estia Groenewald :
Everyone and everything is a brand. Be cautious how you manage your profile around people. Their perception is their reality. Wat kan ek sê? MIDDIES is ‘n “brand”! ‘n Spog-“brand”! Die “brand” wat “care” uitskree! ‘n Omgee-skool! Meneer Stronkie, adjunkhoofde, onnies en NATUURLIK die puik sportafrigters, dis julle wat die Groenmasjien laat rol! Dis hier waar talente geslyp word, waar ‘n gewone, gemiddelde sportman/ vrou se Godgegewe talente ontwikkel word en hulle na WENNERS transformeer! Hoe dan anders met sulke talentvolle, bekwame afrigters? By Middies word nuwe betekenis aan die woord guts gegee! Hier word Middie-Guts die nuwe “buzz-word”! Middies het in 13 maande, my gewone/ gemiddelde rugbyspelertjie getransformeer in ‘n provinsiale rugbyspeler! Jacques le Roux het in 2011 in die tweede rugbyspan gespeel. Onder die bekwame afrigtershand van Mnr Gert van der Westhuizen en Mnr Piet Bothma het Jacques die volgende prestasies behaal: PUMAS Akademie A, PUMAS O/19 A Curriebekerspan, AVS 7’s Bokkieweek – Speler van die toernooi, AVS 7’s Bokkiespan wat na Kenia getoer het EN Classic Clash 2012- Agterspeler van die wedstryd! Dis ook deur die puik afrigters te danke dat Jacques deel is van die NWU-PUK Rugbyinstituut en tans vir NWU-PUK O/21 span speel en in vele wedstryde aangewys is, as speler van die wedstryd! Dankie MIDDIES dat julle omgee en my kind in ‘n presteerder en wenner verander het! Dankie dat ons kan deel wees van die MIDDIES Brand!!

Stuur ons jou boodskap...

Ons sal graag wil hê dat alle oud Middies moet deel bly van die skool se gees en geskiedenis. Epos asb vir ons enige boodskappe wat ons dan op die bladsy kan plaas, sowel as enige navrae.

Adres waarheen boodskappe gestuur kan word:   This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

50 jaar reünie boodskap van MHS

Matrieks 1965
BOODSKAP VAN MHS AAN MATRIEKS VAN  1965

Met heimwee, trots en ook ‘n traan, gaan ons saam met julle 50 jaar terug –
Toewyding, opoffering, vormingswerk –
so het jul gebou aan Middies se rotsvaste burg.
Op sport- en kultuurgebied
het jul toe reeds met ‘n oorwinningspyl geskiet.
Ons onthou saam jul die atletiekspan se drie oorwinnings so soet –
Pat Fletcher en René du Toit kon darem skop met die voet.
Eerste krieketspan seëvier as Noord Transvaal kampioen
Dring deur na eindstryd om Tranvaal Administrateursbeker  in goud en groen.
In tennis onthou ons vir Louisa Coetzee
Sy kon as enkelspelkampioen van die dorp sowaar ‘n kishou gee.
Volkspele, vasvra en kadette was ‘n fees
Alles onderneem in ‘n Groot Middie-gees.
Jul hoof Mnr George Claassen het dit toe al so mooi opgesom:
God who has placed a torch in our hearts that glows with knowledge and beauty, it is a sin to extinguish that torch and bury it in ashes.  Middies torch still glows with knowledge and beauty ……
“Mag ons nie slegs die goeie saad saai nie, maar ook toesien dat die saad ontkiem en groei …”

Middies het ontkiem en gegroei waar ons nou in 2015 met dankbaarheid kan terugkyk na:
‘n Leerlingtal van 1026 waar Afrikaans 818 en Engels 208 is.  
Still glowing ….. still growing.
60 Onnies – poets, skaaf en skuur
aan Middies se rotsvaste muur.

‘n Groot droom word met Mini Astrobaan verwesenlik
Wat Middies-talente sowaar op die “map”sit.
Ons verbeter en bou met die jare se stap   ………………
•    Binnenshuise krieketbaan
•    Muurbalbaan
•    Swembad nuut oorgedoen
•    Voorspoed eetsaal restoureer na spogsaal
•    Nuwe ingang in Walter Sisulustraat ontwerp deur Mnr. Wynand Claassen
………hierdie alreeds ‘n suksesvolle Middie-hap.

Op sportgebied laat Middies nie op hul wag:
-    2015 lewer 91 Provinsiale spelers asook ‘n Nasionale kampioen op
Vyf Mpumalangawenners en 4 Mpumalanga-naaswenners – dis in ‘n neutedop.
-    Ons hokkie is twee spanne van Middies se Groen en Goud Noordvaalnaaswenners
Ons Astro ‘n groot bonus – vra maar die kenners.
•    Die boere van môre kan Middies nou ook akkommodeer, waar hul op Middieplaas van beeste, implemente, besproeiing en hope mielies kan leer.
•    Top Akademie by Middies laat jaarliks die matriek vreugdevure brand, want uitslae gaan met ‘n fantastiese hoof, ondersteunende adjunkhoofde en lojale onnies – hand aan hand.
Middies droom en bou soos 50 jaar gelede nog GROOT, met ons oë gerig na Bo, in rotsvaste geloof, soos dit hoort.
Ons sien ver ‘n volgrootte Astro sterretjie op die horison wink
Vir nou is dit ‘n 7,5 miljoen skippie wat rakelings sink.
As die kleingeldjies in oud Middies se beursie dalk bietjie swaar dra
Is jul welkom om ons bankbesonderhede te vra.
Soos van ouds het jul ook gestreef na Groen en Goud
Fondamente deur jul gebou – bly Middies behoud.