middies sport

Rugby

Middies Rugby Logo Groen
 
MHS neem in die voorseisoen deel aan die NWU-PUKKE Prestige Sportreeks. Daarna speel ons in die Makroskole-reeks, wat eindig in die Beeldtrofee - die hoogste en strafste reeks in skolewintersport.
 

Tussen die pale deur

Deur Keenan Taljaard

MHS Derby 2017 236 Medium
Divan Roberts wys rou emosie na die wedstryd teen HTS Middelburg.
Die rugbyseisoen het hierdie jaar afgeskop met die Pukke Super 16-reeks. Middies se 0/14-span eindig 3de in die reeks. Die eerstespan spog met ‘n 4de plek.
Mnr. Sarel Bosman het die eerstespan tot nuwe hoogtes gelei tydens die ligawedstryde waar hulle baie tevrede voel met ‘n groot verbetering op verlede jaar se puntetellings. In ‘n titaniese stryd teen Nelspruit het Middies se manne tot kort voor die einde voorgeloop.
Middies het wel hulle wedstryd in die Derby verloor, maar almal is dit eens dat ons soos wenners gevoel het. Die eindtelling van 10 – 5 het ons breëbors laat glimlag, want dit is ‘n reuse verbetering op verlede jaar se telling. Die eendeweer het niemand afgeskrik nie en ons het bankvas agter ons eerstespan gestaan. Die Middiegees het natuurlik hoog geloop en daar was ‘n samehorigheidsgevoel wat elkeen trots laat voel het om ‘n leerder in die “skool van daad” te wees.
Die volgende kragmeting was tydens die Versekerbeker. Middies se 0/15-span het naelskraap teen Garsfontein verloor in die kwartfinaal.
Ons spog hierdie jaar met twee Cravenweekspelers – Coenrad Visser en Teboho (Smiley) Mosia. Tabang Mogadima is ingesluit in die 0/16 Grant Khomospan.
Soos gewoonlik vaar Middies goed in die Sewestoernooie. In die vyf toernooie waaraan ons deelgeneem het, het die 0/15-span een gewen en twee 2de plekke behaal. Hulle is dan ook Mpumalanganaaswenners. Die 0/17-span het een Plaatfinaal gewen en is Mpumalangawenners. Beide dié spanne kwalifiseer vir Noordvaal.
Vyf Middies is ingesluit in die Puma Sewesspan: Kyle Hambidge, Smiley Mosia, Okke van der Kolf, Unathi Poyo en Coenrad Visser.
 

Argief

Wen of verloor, Middies se manne in groen en goud maak ons trots in 2016

Rugby spanfoto Medium
Voor: Louw de Waal, Dylan Saunders, Telvin Mhlongo, Gert van der Westhuizen, Steven Pieterse (kaptein), Christo van Niekerk, Thys Potgieter, Rhuan Wholitz, Magda Nieuwoudt. Middel: Stephan Kempen, Cornel Els, Mario Leemans, Henrico Störm, Jacques le Roux, Dewald Coetzee, Anton Hoogenboezem, Shannon Cappa, Casper Jordaan. Agter: Wandile Shabangu, Morné Sonnekus, Zama Mhlongo, Siyanda Maseko, Ryan Phiri, Shane Botha, Mbali Sambo, Jadrich van der Merwe.

Die PUK Prestige Reeks 2016 finaal het gesorg vir harde wedstyde. Al MHS se spanne het baie goeie rugby gespeel en het beslis die PUK Super 16-reeks op ‘n hoë noot afgesluit. Die eerstespan het ook gesorg vir naelbyt-oomblikke toe hulle halftyd 21-7 agter was teen Wonderboom, maar toe die eindfluitjie blaas, was die telling 29-26 in ons guns.

Uitslae van die onderskeie spanne is soos volg:

14A wen 30-17 teen Lichtenburg, 14B wen 10 -10 teen Montana en hulle eindig eerste, 15A wen met ‘n reuse telling van 48-5 teen Driehoek, 16A wen 13-12 teen ‘n sterk Noordheuwel en hulle eindig ook as kampioene. 16B verloor met 7-0 teen Montana, 4des wen 22-5 teen Zwartkop, 3des verloor 7-0 teen Die Anker en die 2des wen 15-12 teen Oosterlig.

MHS se seisoen het reeds in Maart afgeskop met vriendskaplike wedstryde teen Hoërskool Ermelo in ‘n ysige, reënerige Ermelo. Vir die eerste wedstryd in die PUK-reeks het Wesvalia vir die eerste keer Middelburg Hoërskool besoek - en wat ‘n puik begin tot die seisoen was dit nie. Daarna was daar ook taai wedstryde teen Hugenote Hoërskool op MHS se gronde. MHS het ook vir uitstekende rugby gesorg toe hulle Wonderboom Hoërskool in Pretoria besoek het.

Middies eindig algeheel vierde in die Puk Prestige Reeks 2016. Die volgende spelers is ook gekies om deel te wees van ‘n uitnodigingspan wat later vanjaar na Ierland toer: Gysbert Ehlers, Unathi Poyo, Coenraad Visser, Kyle Hambridge en MK Khumalo.

Baie geluk aan die volgende Middies wat in provinsiale rugbyspanne opgeneem is:

Grant Khomo-span: Mtho Mondlane, Coenraad Visser, Unathi Poyo, Ntokoso Thlou.

Akademie A: Joseph Olivier, Chris Steyn, MC Kühn, Gysbert Ehlers, Neil Scott, Kyle Hambidge.

Akademie 18A: Andiswa Mndawe.

0/19A: Steven Pieterse, Mpumelelo Mathias, Telvin Mhlongo, Ryan Phiri, Thys Potgieter, Shane Botha, Barend Ditle.

0/18 Cravenweek: Wandile Shabangu.

Een ding is seker, wen of verloor, Middies se manne in groen en goud maak ons trots!

Hoogtepunte van 2015

Rugby ad Medium

MHS o/15A seuns speel teen Nelspruit en verloor 12-10 ... dit was so amper! Hulle is Makroskole naaswenners en speel volgende Saterdag in die Beeld Trofee uitspele.

MHS se o/15A verloor 22-15 teen Menlopark in die Beeldtrofee kwartfinaal. Hulle het tot die laaste minuut Middieguts gewys! Trotse MIDDIE!

Middies se manne in groen en goud maak ons trots

Deur Robert du Toit

MHS is trots op die skool se rugbymanne. Ons neem jaarliks in die voorseisoen deel aan die PUK Prestige Super 16-reeks. Hierdie jaar eindig die eerstespan tweede in die Super-16 en stap weg met die silwermedalje. Die tweedes eindig gelykop en deel die gouemedalje. Die 0/15A-span spog met ‘n bronsmedalje. MHS se rugby eindig algheel vierde in die PUK Super 16.

Na die Super 16 speel ons in die Makroskole Beeldtrofee-kompetisie waar ons meeding teen skole met dubbel ons getalle. Middelburg Hoërskool is die kleinste makroskool in Suid-Afrika, maar kan met trots sê dat Middies se eerstespan in 2006, 2009 en 2012 die Mpumalanga Makroskole gewen het. 

Die Eerstespan is ook een van die enigste spanne wat die huidige Beeldtrofee-kampioen, Hoërskool Nelspruit, geklop het in 2014.

MHS lewer jaarliks minstens 20 provinsiale spelers op.

Die volgende spelers word hierdie jaar verkies:
Cravenweek - Marius Verwey, Ruben Roodt, Cyprian Nkomo, Siyabonga Khaliswayo, Fana Ngwenya, Telvin Mhlongo, Steven Pieterse en Mpumelelo Mattias. 0/18 Stedelik (SARU Akademiese week) - Neft du Toit, Wandile Shabangu, Ryan Phiri, Jaci Ntombeni en Andiswa Mndawe. 0/16 Grant Khomo – Ndumiso Ntobeng, Manga Ntimba, Mbali Sambo, Cornel Els, Shane Botha en Zama Mhlongo. 0/16 Stedelik Noordvaal week - Delmain Pieterse, Glenn Christie, Stefan Kempen en Morné Sonnekus.

Ons spog met die beste afrigters in Mpumalanga. Mnr. Gert van der Westhuizen is nie net ons adjunkhoof nie, maar ook afrigter van die 0/15A, eerste-rugbyspan en die 0/19-Puma A-span.
Manne met spoed en rugbyvaardighede kry die geleentheid om aan die gewilde Sewesrugby deel te neem. Middies 7’s weet definitief wat Middieguts is!

Op Saterdag, 16 Mei 2015, is die hele Middelburg omtrent tot stilstand geruk toe Middelburg Hoërskool se rugbymanne in groen en goud teen die HTS Rooibulle in die FNB Classic Clash te staan gekom het. ‘n Skare van duisende Groen en Rooi ondersteuners het die pawiljoene stampvol gesit.

Hoewel HTS Middelburg die hoofwedstryd van die dag gewen het, het Middies die groen en goud met trots gedra - doelskoppe, strafskoppe, drieë, duikslae en ‘n rooi bul plat op sy neus! ‘n Dag waaroor nog lank gepraat, gelag, kop geskud, maar NIE gehuil word nie! Alles in die groen sportmangees van Middies.

rugby

Voor: Johan Engelbrecht, MJ Ackerman, Chris Henekom, Nefdt du Toit, Marius Verwey (kaptein), Duan van Wyk, Philip Olivier en Steven Pieterse. Middel: Andiswa Mnduwe, Ghiardt Reynders, Jadrich van der Merwe, Barend Ditle, Joshua Mey, Cyprian Nkomo, Ryan Phiri en Marnus Aucamp. Agter: Mpumelelo Mathias, Ricardo Steyn, Jaco Jacobsz, Siyabonga Khalishwayo, Telvin Mhlongo, Ruben Roodt (onderkaptein), Wandile Shabangu en Fana Ngwenya.
MHS neem jaarliks in die voorseisoen deel aan die PUK Prestige Super 16 Reeks. Daarna speel ons in die Makroskole Beeldtrofee-kompetisie. MHS ding mee teen skole met dubbel ons getalle in die Makroskole-kompetisie. Middelburg Hoërskool is die kleinste makroskool in Suid-Afrika.

In 2006, 2009 en 2012 het Middies se eerstespan die Mpumalanga Makroskole gewen. Vanaf 2006 tot 2013 speel ons 1ste span elke jaar in die finaal van die Mpumalanga Makroskole. Die eerstespan is ook een van die enigste spanne wat die huidige Beeldtrofee kampioen, Hoërskool Nelspruit, geklop het in 2014.

Ons spog met die beste afrigters in Mpumalanga. Rugby-ontwikkeling is ons doelwit. By Middies word spelers Die Puma Cravenweekafrigter, Gert van der Westhuizen, is ons eerstespanafrigter. Die Akademie A-span word deur Piet Bothma, ook ’n eerstespanafrigter afgerig. Talle ander Middies-afrigters is ook provinsiale afrigters en keurders.