Akademie

Unieke Vakke

MHS bied die volgende unieke vakke aan:

Ingenieursgrafika en Ontwerp

Waarom moet jy bogenoemde vak neem?
Indien jy 'n Argitek of Ingenieur wil word is dit eintlik 'n verpligte vak.
Ons land benodig dringend gekwalifiseerde ambagslui in Ingenieurswese en hierdie loopbaangeleenthede voorsien baie goeie vergoeding.
Met Ingenieursgrafika en Ontwerp as 'n vak sluit die hoofareas van werkvoorsiening Elektriese, Elektroniese, Siviele, Meganiese en Rekenaar-Ingenieurswese in. Studente behoort beroepe as tekenaars te vind in amper enige pos wat die maak van tekeninge vereis voordat die produk vervaardig, gebou, ontwerp, beplan, ens. word.
Die IGO student het die opsie om werk te soek direk na skool. In daardie geval kan die student 'n tekenaar of vakleerling word. 'n Vakleerling studeer onder leiding van 'n gekwalifiseerde ambagsman en kan as ambagsman kwalifiseer wanneer die nodige vaardighede verwerf is asook die nodige vaktoets geslaag is. Minimum en maksimum tydbeperkings om te kwalifiseer as 'n ambagsman is toepaslik. In beide gevalle kan die student sy gr 12 kwalifikasie te verbeter deur deeltyds te studeer aan 'n VOO kollege, Universiteit van Tegnologie of Universiteit terwyl hy indiens is. In die meeste gevalle sal die werkgewer vaardigheids-ontwikkeling aanspoor en mag die vakleerling se registrasiefooie en/of studiegelde, vir voltooide kursusse, deur die werkgewer betaal word.
Die alternatiewe opsie is om te kwalifiseer as 'n beroepspersoon aan enige van bogenoemde instansies. Argitekte, Ingenieurs, Ontwerpers en Tegnoloë in enige van genoemde ingenieursvelde word beskou as professioneel gekwalifiseerd.
Vir verdere inligting aangaande studiegeleenthede in die Ingenieursgrafika en Ontwerp veld, raadpleeg die prospektusse van enige van bogenoemde instansies.

Landboubestuur en -tegnologie

MHS Landbou poog om seuns en dogters wat hul plek sal volstaan in die boerdery- en breër landboubedryf aan die gemeenskap terug te gee.

Die tyd was nog nooit meer reg vir 'n loopbaan in landbou nie.

By MHS word toekomstige landbouers geskool in die teorie en praktyk van Landboubestuurswetenskappraktyke en Landbou Tegnologie.

Landboubestuurspraktyk

Landbestuurspraktyk stel leerders bekend aan landbou in die breë. Inligting rakende veral boerderypraktyke wat in die omgewing beoefen word, word op gefokus. In die Gr 10 jaar word diere- en gewasproduksie behandel. Gedurende die Gr 11 jaar word daar gefokus op 2 spesifieke ondernemings nl. vleisbeesproduksie en mielieproduksie. Die bestuur van weidings vorm ook deel van die leerplan. Gr 12 fokus op bestuur. Leerders leer van hulpbronne wat gebruik word, boekhouding, arbeid, waardetoevoeging en bemarking.

Leerders kry gedurende die 3 jaar geleentheid om verskeie kursusse by te woon, wat reeds ‘n bydrae lewer tot hul CV. Kursusse wat aangebied word behels: beesbeoordeling, kunsmatige inseminasie, dragtigheidsondersoeke en skaapskeer. ‘n Ploegkompetisie word aangebied indien die omstandighede gunstig is.

Prakties vind een maal per week op die Middieplaas plaas. Hier word vaardighede van beesproduksie aangeleer soos onthoring, brandmerk, merk, onthoring, inenting en gesondheid. Rondom gewasproduksie word leerders blootgestel aan grondmonsterneming, plantestand, maak van kuilvoer, bemesting en oes.

Landboutegnologie

Landboutegnologie stel leerders bekend aan talle landbouingenieurs komponente wat van toepassing is op die plaas. Veiligheidsmaatreëls rakende implemente, elektrisiteit, voertuie en werkswinkels word behandel. Vaardighede om te sweis word aangeleer en leerders voltooi ‘n praktiese projek. Temas wat ook aandag geniet is metale, elektrisiteit, meganika, watervoorsiening en heinings.

Leerders woon Nampo by, asook ‘n baaldag waartydens die proses van baal gedemonstreer word. Die werking van ‘n baalmasjien word ook breedvoerig behandel.

Albei landbouvakke lê ‘n goeie grondslag vir boerdery en leerders het reeds vaardighede bemeester wat hulle kan ondersteun in ‘n naskoolse werksgeleentheid.

DSC 0089 Medium

Middies is “baas op die plaas”
Deur Kirsten Jansen van Vuuren

Middies se landbouleerlinge is nie net baas op ons eie Middieplaas nie, hulle blink ook uit op ander landbouterreine. Die Middieplaas bied ‘n unieke geleentheid vir leerlinge om waardevolle praktiese ondervinding op te doen, aanvullend tot die kurrikulum van Landboubestuur en Landboutegnologie (wat beide keusevakke tot in matriek is). Vir dié van julle wat gedink het ons landboumaats gaan sommer net plaas toe vir die lekker, dink weer! Praktiese lesse sluit die volgende in: (1) Diere: dip, spuit, brandmerk, onthoring, speen en weeg en (2) Mielies: grondmonsters, implemente, oesskattings en stroop. En dan doen hulle boonop algemene plaaswerk soos verf en draadspan ook!

MHS-leerders neem jaarliks aan drie jeugskoue deel en by die mees onlangse jeugskou het hulle weereens koning gekraai met talle leerlinge wat plekke behaal het. Die uitslae was soos volg: Vleisbeeste: Beaurain Pieterse (5de); Vleisskape: Veniece Eybers (2de); Vleisbokke: Francois du Toit (1ste), Jennie Barwise (2de), Letitia Bezuidenhout (3de); Varke: Mark Nel (1ste); Konyne: Claudine Bolt (2de), Janco Fritz en Valerie du Plessis (3de), Jenine Jacobs (5de), Zayleè Els (6de); Perde: Stephan Jansen van Vuuren (5de). Geluk aan elkeen van hierdie presteerders.

Ander landbougeleenthede wat bygewoon word in 2015 is: Graad 10 – NAMPO gedurende Mei (grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond); Graad 11 – Junior Beesbeoordelaarskursus, 2-dag kursus aangebied deur die Simmentaler Beestelersgenootskap van SA, Kunsmatige Inseminasie en Dragtigheidsondersoeke-kursus; Graad 12 – Alzu-veiling.

Die Mpumalangaspan word eersdaags aangekondig en ons hou duimvas dat Middie-landbou ook hier ‘n “groot oes” gaan oplewer.

Gasvryheidstudies

Gasvryheidsbedryf maak deel uit die toerismebedryf. Die Gasvryheidsbedryf dra grootliks by tot Suid-Afrika se BBP (bruto binnelandse produk).Die Gasvryheidsbedryf bied werksgeleenthede aan ongeveer 378 000 mense in Suid-Afrika wat bedra tot die land se ekonomie.
Gasvryheidsbedryf is die studie van die volgende onderwerpe in die Gasvryheidsbedryf.
Kombuis en restaurantwerksaamhede;beskryf die uitleg en werksprosesse van kombuise en restaurante
Voeding en Spyskaartbeplanning; die onderwerp bied 'n basiese kennis van voedingswaarde van voedsel en hoe om voedselkombinasies op 'n spyskaart te beplan.
Kommoditeite: die onderwerp bied 'n basiese kennis van die verskillende tipes voedsel en hoe om dit voor te berei, gaar te maak en voor te sit.
Voedsel en drankdiens: Verduidelik hoe om voorbereide kos en drank aan gaste voor te sit.
Higiëne, veiligheid en sindelikheid: Verduidelik die belangrikheid van sindelikheid en die higiëniese hantering van voedsel, asook die belangrike rol wat die veiligheid van gaste speel
In Gasvryheidstudies sal jy die belangrikheid van beplanning en organisasie in die volgende take leer:
Lewering en aanbieding van 'n aantal verskillende maaltye op 'n kreatiewe manier.
Voorbereiding van lokale en dek van tafels vir die verskillende soorte gasvryheidsfunksies
Die uitvoer van die korrekte kos-en drankdiens en opruimingstegnieke.
Finansiële en Bestuursvaardighede
Loopbane wat gevolg kan word indien Gasvryheidstudies as vak geneem word:
-Hotel- en Lodgebestuurders
-Voedsel- en drankbestuurders
-Restaurantbestuurders
--Voedsel- en drankbedieners
-Wynkelners (sommelier)
-Geleentheidskoördineerders
- Professionele Sjefs
-Eienaars van kitskos-ondernemings
-Kantoorbestuurders
-Franchise-bestuurders
-Uitvoerende huishouers
-Voedselfotografie en -stilering
-Produkontwikkeling in laboratoriums( Voedselwetenskap)
-Voedsel Joernalistiek in Kostydskrifte
-Resep Ontwikkeling vir kostydskrifte
-Voedsel navorsingswetenskaplikes wat te doen het met kos alergieë ens.
-Kombuisuitleg
-Dekorontwerpers vir restaurante
-Voedselonderwysers in skole

Toerisme

Leerlinge kan Toerisme neem saam met ‘n universiteitstoelatingsvak en nog steeds verder gaan studeer. Toerisme is ‘n insig vak en is baie interessant. Sommige leerlinge neem Toerisme om hul PTP-Telling te lig.
Die vak Toerisme behels die volgende:
Graad 10:
• Toerisme sektore
• Toerbeplanning
• Binnelandse toerisme
• Trekpleisters in SA
• Volhoubare en verantwoordelike toerisme
• Bemarking
• Kultuur en erfenis
• Kommunikasie en kliëntediens
Graad 11:
• Toerisme-sektore
• Lughawens in SA
• Vervoersektore
• SA Kultuur en erfenis
• Buitelandse valuta
• Globale verspreidingsisteme
• Bemarkingstegnieke
• Trekpleisters in SADS-lande
Graad 12:
• Wêreldgebeure
• Politieke situasies
• Toerbegrotings, gesondheid en veiligheid
• Reisdokumente
• Wêreldtydsones
• Wêreldikone
• Buitelandse valuta
• Betaalwyses
• Wêrelderfenisterreine
• Diensvoorwaardes
Leerlinge kan toerisme neem as hulle die volgende beroepe wil volg:
• Reisagent
• Reiskonsultant
• Toergids
• Beroep in hotelbedryf
• Motorhuur maatskappye
• Toerisme informasiesentrums
• Gastehuise/Lodges
• Grondpersoneel by lughawens
Enige beroep in die toerismesektor

Inligtingstegnologie – IT & Rekenaartoepassingstegnologie – RTT

Inligtingstegnologie – IT (Gr 10 – 12)
Inligtingstegnologie het ontstaan uit die groeiende behoefte van die Inligtings- en kommunikasie Tegnologieë (IKT) van ons hedendaagse lewens.
“IKT is die samevoeging van netwerke, hardeware, sagteware en kommunikasie deur interaksie van verwerking, bestuur en uitruil van data en inligting.”
As basis word die volgende binne IT bestudeer:
• Persoonlike rekenaar hardeware en sagteware;
• Netwerk hardeware en sagteware;
• Ander hardeware en sagteware;
• Gebruik van IKT in probleemoplossing;
• Die impak van IKT op die samelewing;
• IKT se etiese, wetlike en sekuriteitsaspekte;
• Selfoontegnologie;
• Video, oudio, radio en digitale tegnologieë.
Wat kan ek einde Matriek in IT doen?
• Analiseer faktore wat algemene werksverrigting van rekenaars beïnvloed;
• Skep verslae rakende allerdaagse probleme in rekenaars opstellings;
• Lewer sinvolle sagteware en hardeware aanbevelings vir unieke behoeftes;
• Demonstreer kennis en begrip oor die inpak van IKT op ons allerdaagse lewens;
• Kritiese ontleding van Internet sekuriteit;
• Besef die sosiale en etiese implikasies van IKT;
• Gevare en inpak van onwettige sagteware;
• Insameling en veilige stoor van data en inligting;
• Normalisering van databasisse tot 3NF;
• Gebruik van multi-tabel databasisse met navrae;
• Manipuleer ingesamelde data deur gevorderde tegnieke om sinvolle afleidings te maak;
• Ontwerp en ontwikkel eie werkbare programme wat allerdaagse probleme effektief kan oplos;
• Effektiewe gebruik van skikkings, tekslêers, databasisse, klasse en objekte;
• SQL – Structured Query Language
• OOP – Object Orientated Programming.
Wie kan IT vat? Leerlinge …
• wat in Gr 9 vakkeuses maak;
• met goeie kommunikasie vaardighede;
• met goeie Wiskunde vermoëns (Meetkunde);
• met logiese kognitiewe vaardighede;
• met baie kreatiwiteit;
• met probleemoplossings vaardighede;
• wat belangstel in tegnologiese vooruitgang;
• wat bereid is om hard te werk;
• wat geensins lui is nie.

Hoe verskil IT van RTT?
In beide vakke word teoretiese sowel as praktiese kennis en vaardighede rakende rekenaar hardeware en sagteware bestudeer. Die verskil tussen die twee vakke lê direk in die diepte van ondersoek wat elkeen aan die onderskeie temas bied.
IT as vak bestudeer alle aspekte van hardeware en rekenaar werking in baie meer tegniese diepte as wat die geval in RTT is.
Binne die praktiese afdeling van die twee vakke lê die grootste verskil.
In IT word daar gefokus op probleemoplossings binne programmering van selfgedefinieerde sagteware.
In RTT val die fokus op die volledige begrip van die hele MsOffice pakket nl. Woordverwerking, Sigblad, Databasis en Aanbiedings

Rekenaartoepassingstegnologie – RTT (Gr 10 – 12)
Rekenaartoepassingstegnologie is ‘n nuwe vak wat ontstaan het as ‘n verbetering van vorige vakke soos Rekenaartik en Rekenaarstudie SG. RTT betrek ‘n breër algemene kennis van die Inligtings- en kommunikasie tegnologieë(IKT) van ons alledaagse lewe.
Omdat IKT voortdurend verander word die volgende areas behandel tydens jou RTT loopbaan:
• Persoonlike rekenaar hardeware en sagteware;
• Netwerk omgewings;
• Gebruik van IKT in probleemoplossing;
• Die impak van IKT op die samelewing;
• Kommunikasie tegnologie;
• IKT se etiese, wetlike en sekuriteitsaspekte.

Wat kan ek einde Matriek in RTT doen?
• demonstreer kennis van hardeware, sagteware en wye area netwerke;
• demonstreer begrip van probleemoplossing van eenvoudige eindgebruiker probleme;
• gevorderde manipulasie van lêers en lêergidse;
• identifiseer en bespreek wetlike, etiese en sekuriteitsaspekte relevant tot IKT;
• identifiseer die inpak van IKT op die omgewing asook sosiale implikasies op ‘n globale vlak;
• toepaslike en korrekte toevoer van data;
• hoogsgevorderde woordverwerking tegnieke;
• kennis en vaardigheid in sigblad tegnieke;
• kennis en vaardigheid in databasis tegnieke;
• kennis en vaardigheid in aanbiedings tegnieke;
• toepassing van logiese denke in die oplos van geïntegreerde eindgebruiker probleme;
• interpreteer geskrewe en elektroniese dokument redigering om korrekte afvoer te lewer;
• effektiewe kommunikasie van inligting deur seleksie van gepaste kommunikasie tegnieke;
• maak van ingelegte keuses na data-insameling;
• Logiese denke in die verwerking van data.

Wie kan RTT vat? Leerlinge…
• wat in Gr 9 vakkeuses maak;
• met goeie kommunikasie vaardighede;
• met fyn motoriese vaardighede;
• met logiese en praktiese denkvaardighede;
• met eie kreatiwiteit;
• met probleemoplossings vaardighede;
• met ‘n bereidwilligheid om te leer en nuwe vaardighede in verskeie situasies toe te pas;
• met ‘n bereidwilligheid tot lewenslange leer.

Visuele Kuns en Ontwerp

By MHS word hierdie twee vakke deur uiters bekwame en toegewyde onderwysers aangebied.
Hulle leerders maak na skool hul merk nie net in Suid Afrika nie, maar ook in die wêreld.
In wye velde wat strek van die filmbedryf, mode-ontwerp, beeldende kunste, juweelontwerp tot die formele besigheidsektor.
Me. Marion Duvenage wat aan die hoof van hierdie departement staan is self 'n oud-Middie.
Haar kundigheid word hoog aangeskryf deur die Departement van Onderwys asook die breër kunsgemeenskap.

MHS spog met eie Middieplaas

Deur Greta Kurpershoek
Ses kilometer vanaf Hoërskool Middelburg op die Stoffbergpad uit is die Middieplaas. Dit dien as ‘n opleidingsentrum waar leerlinge op unieke wyse in die vakke Landboutegnologie en Landboubestuurspraktyk onderrig word.
Die Middieplaas word weekliks deur opgewonde Middies besoek en hier doen hulle praktiese ondervinding op as deel van die onderskeie kurrikulums. Teorie wat in die klaskamer behandel word, word prakties toegepas wanneer onder andere dragtigheidstoetse saam met veeartse, die brand van horings, kastrering van manlike diere en ook algemene plaaswerk uitgevoer word.  Ook word leerders die kans gegun om diere te versorg en deel te neem aan verskeie jeugskoue. So kraai Middies se landboustudente koning op die plaas.
Die Middieplaas word ook ingespan om ’n inkomste te genereer. Daarom word 110 hektaar van die totale 200 hektaar grond deur gesaaides opgeneem wat vir kommersiële gewin gebruik word. Die oorblywende grond word vir weiding vir ’n wye verskeidenheid diere gebruik. Daar word aktief geboer met Beefmasters, skape en op ’n kleiner skaal met groente. Hierdie inkomste word tot voordeel van die skool en die koshuise gebruik. So verryk ’n goeie oes en spekvet diere - en selfs die spinasie - elke Middie se skoollewe!  
Daar is hierdie jaar aan verskeie landbouskoue deelgeneem. Die volgende leerders ontvang hulle Mpumalangakleure: Hanlie de Vaal, Anuska van Vreden, Jean-Marie Danhauser, Milandri Smit, Thian Janse van Vuuren, Mighael Fourie, Janco Pieterse, Valerie du Plessis en Miranda Putter. Tydens die Nasionale Kampioenskappe behaal hulle die volgende plekke: Hanlie: 7de plek vleisskaap. Hanlie, Anuska en Jean-Marie: 2de plek in die vleisskaap groepklas vir juniors. Milandri: 5de plek in die vleisskaap groepklas vir seniors. Thian: 6de plek in die afdeling vir melkbokke en 3de plek in die melkbok groepskou vir seniors. Janco: 7de plek vir konyne. Valerie: 5de plek vir konyne. Marinda: 2de plek vir konyne.
Daar is min skole wat kan spog met ‘n plaas en hier by Hoërskool Middelburg se Middieplaas leer ons die letterlike én figuurlike betekenis van die idioom “jy sal maai wat jy saai”.