Skole is Middelburg se trots…

En dit uit die mond van ’n stadsjapie

Middies beste heeljaar

’n Paar jaar gelede het ek as 20-jarige in Middelburg aangekom. Vol arrogansie en selfs met ’n tikkie snobisme agter my nat ore - was mos ’n ster in ’n stadskool én ek was nog besig met my tersiêre opleiding...in die stad. Onthou  hoe ek baie beterweterig op die dorp se skole neergekyk het.

Maar dit was sewe jaar terug. En baie kan in sewe jaar gebeur.

Deesdae is ek trots op Middelburg se skole en ek sal selfs so ver gaan deur te sê hulle is beter as talle makroskole in die stede. Veral my beskeie skool.

Weens veiligheidsredes (ek verneem daar is verskeie oud-Silvertonners - selfs kerkmense - in die dorp) sal ek my hoërskool se naam hier weerhou. Wat ek wel kan sê, is dat Afrikaanse “kultuurskatte” soos Casper de Vries en Frank Opperman daar skool gegaan het.

Mense was maar bangerig vir ons. In my matriekjaar moes ’n bekende Bloubulrugbyspeler ons kom toespreek. Vol verwagting het ons in die vierkant saamgedrom, net om die sien hoe die slot (want dit was sy posisie) ’n paar keer om die skoolmure gery het (seker gedink dis Jerigo) en toe terug na die beloofde land gevlug het.

Hier in Middelburg daag sprekers heel stiptelik op wanneer hulle genooi word en baie kere het van die groot name self hier op die dorp agter die skoolbanke gesit - dink maar aan Wynand Claassen en kie.

Dan is daar natuurlik die jaarlikse derby tussen Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg. Soms dink ek nie ons Middelburgers besef hoe bevoorreg ons is om die jaarlikse skouspel by te woon nie.

Die opbou tot die dag, die moeite wat gedoen word deur die personeellede van beide skole en die passie waarmee die spelers op die veld uitdraf, dui op iets waarmee min skole in die stad kan kers vashou: trots op jou skool én jou spanmaats.

In my hoërskool het ons nie ’n derby gehad nie. En as ons een gehad het, sou ons waarskynlik die nabygeleë SAVF Ouetehuis gepak het. Dink die wedstryde sou nogal close gewees het - die ouetehuis was immers ’n hotel waar die All Blacks eens oornag het. Oom John Fitzpatrick se naam klink baie Kiwi-agtig.

Dan die akademiese oorlogveld. Kry gereeld die gemiddelde van al die hoërskole se top 10-leerlinge en sjo, die kinders kén hulle somme en wetenskaplike formules nogal goed. Kyk altyd waar ek onder die graad 12’s se top-presteerders sou tel. Baie kere sou ek met my punte nie eens gefeature het nie.

Wat kultuur betref, kan ek eerlik sê dat die dorp oor meer as genoeg talent beskik. Die geleenthede wat hul gebied word - dink maar aan Art in the Dark en al die kultuuraande - sorg dat kinders selfvertroue in hul vermoë kry én dat hul mede-leerlinge hul uitstekend ondersteun.

Goeie skole sorg vir ’n blink toekoms. En Middelburg is die toekoms belaglik blink (weens my stadskoolonderrig kan ek nie die intensiewe vorm van “blink” onthou nie!).