Veelsydige Marnus terug op sportveld!

Marnus Aucamp Medium

2015 sou Marnus Aucamp se jaar gewees het. Die matriekleerling van Hoërskool Middelburg was vir vier jaar agtereenvolgens die skool se sportman van die jaar en het vir die eerste rugby-, hokkie-, tennis- én krieketspan uitgedraf.
Boonop het hy met die aanvang van die seisoen van sy beste rugby op heelagter gespeel. Die sportwêreld het letterlik vir hom oopgestaan.
Maar soms sorg die noodlot dat die lewe ’n snaakse pad met jou stap en Aucamp se opmars na sy vyfde titel is onverwags in die eerste helfte van ’n toerwedstryd teen Grey Kollege se Cherries omvergewerp.
“Dit was ’n fratsongeluk. Terwyl ek een van hul spelers têkkel, het my voet op ’n snaakse manier gedraai en ek het my enkel gebreek.”
Middies het 31-31 gelykop teen die Vrystaat se tweede beste skoolspan gespeel, maar moes vir die res van die seisoen sonder hul eerste keuse op heelagter klaarkom.
Om langs die veld te staan en kyk hoe sy spanmaats speel, was ’n moeilike ervaring vir Aucamp.
“Van al die jare het ek dié jaar die beste rugby gespeel. Ek het baie drome op die rugbyveld gehad, maar hulle kon nie realiseer nie,” sê hy Dinsdagoggend by die skool.
Tog het hy steeds élke spanpraatjie en wedstryd bygewoon om die span te ondersteun.
“Alles het altyd ’n doel en die besering het my beslis ’n sterker mens gemaak. Twee van ons skool se leerlinge is vanjaar oorlede en dit het my laat besef dat ek steeds soveel het om voor dankbaar te wees.”
Het hy die spel gemis?
“Natuurlik, maar van al die wedstryde wou ek die graagste teen HTS Middelburg in die derby gespeel het.”
Goeie nuus is dat hy terug is op die sportveld en deel is van Middies se eerste krieketspan - ’n span wat tot op hede onoorwonne is in die Superliga.“
Ek is nog nie heeltemal gemaklik om agter die paaltjies diens te doen nie, maar hopelik sal ek teen die volgende wedstryd weer die paaltjiewagterhandskoene kan aantrek.”
Hy vertel dat geloof en veral die ondersteuning van sy familie, vriende en skool die herstelpad makliker gemaak het.
Aucamp gaan volgende jaar BSc Bourekeningkunde by die Universiteit van Pretoria studeer en sal definitief koshuissport speel.
“As ek die geleentheid kry om verder met my sport te gaan, sal ek dit beslis met beide hande aangryp!”
Een ding is seker: in Marnus Aucamp het Middies ’n sportman wat met ’n rugbybal, hokkiestok, tennisraket én krieketkolf in die hand gebore is.