Middie jag podiumplek in Oos-Londen

IMG 3906 Medium

Somey Uys het ’n maklike filosofie as dit by landloop kom: bly net gefokus.
“Gedurende die wedloop is almal is net so moeg soos jy. Wat wel saak maak,
is hóé graag jy wil wen,” sê dié leerling van Hoërskool Middelburg
Woensdagoggend by die skool. En as die provinsiale o/16-kampioen oor vier
kilometer, weet sy hoe dit voel om eerste oor die wenstreep te hardloop.Nou
gaan sy Saterdag saam met haar provinsiale spanmaats in aksie wees by die
nasionale kampioenskap in Oos-Londen, waar sy goud vir Mpumalanga wil wen.
“Ek het al ’n hele paar oefenkampe langs die kus bygewoon, dus behoort die
verskil in lugdruk nie veel te pla nie.”
Sy besef ook dat elke wedloop sy eie uitdaging bied.
“Ek probeer om voor in die bondel te bly en dan my strategie daarvolgens aan
te pas. ’n Wedloop spring gewoonlik baie kompeterend weg en almal deel
stampe en stote uit om voor te kom. Dit is maar net deel van landloop.”
Sy vertel dat haar langafstandloopbaan in haar graad drie-jaar by Laerskool
Middelburg begin het. Deesdae is sy ook ’n bekwame 400m- en hekkiesatleet.
Items wat juis haar landloop - veral ten opsigte van spoed - bevoordeel.
Die 16-jarige atleet was ook lid van MHS se o/16-hokkiespan wat as
Mpumalangawenners gekroon is en tot die halfeindstryd van die
Noordvaalkampioenskap gevorder het.
“Ek het in Julie al vir die kampioenskap begin oefen en die hokkie het
beslis tot my fiksheidsvlakke bygedra. Verder volg ek ’n oefenplan wat
gereeld naelloopwerk insluit. Die gereelde nagwedlope sorg ook vir afstand
en tyd op my bene.”
Watter tipe baan geniet sy die meeste?
“Ek hou van bulte. Hoe meer bulte, hoe makliker is dit vir my.”
Een ding is seker: Somey en kie gaan Saterdag meer as genoeg kanse kry om
hul landloopspiere te bult.
• Haar landloop-slagspreuk: “Die wil die kan, die nie wil nie die moet. Maar
ék, ék sal.”
• Middies se Jacques Keulder en Romeo Dikotope sal ook in Oos-Londen
hardloop.