Chanelle speel gholfbane aan die brand

gholf10

Chanelle No. 1!

Mens kan maklik sien wanneer Chanelle Botha ’n goeie dag op die gholfbaan het: Daar is ’n huppel in haar stap en haar poniestert swaai vrolik onder haar pet rond. Dié is ’n verskynsel wat deesdae al hoe meer gesien word.

Botha tel tans onder die beste vroue-gholfspelers in Mpumalanga. En dít op 16-jarige ouderdom.

Die graad 11-leerling van Hoërskool Middelburg sal gedurende die Oktobervakansie by die Interprovinsiale Toernooi in Centurion in aksie wees - ’n prestasie wat maar net die nuutste van ’n rits skittervertonings op die gholfbaan is.

“Ek het op 10-jarige ouderdom leer speel, maar dinge het eers twee jaar later ernstig begin word,” sê dié veelvoudige kampioen.

Sy vertel dat vanjaar se 72 Putjiekampioenskap in Oos-Londen een van haar lekkerste toernooie was.

“Ek geniet my skoolgholf baie, terwyl die Skotse uitstappie (sy het 12de in haar afdeling by die US Kids European Championships in 2013 geëindig) ook ’n hoogtepunt was.”

Was dit ’n aanpassing om in Skotland te speel?

“Skotland se bane het minder bome en meer skuinstes, terwyl dit definitief groener is weens al die reën. Die gras is ook sagter en hulle meet afstande in treë (yards), dus moet jy jou GPS saamneem wat meter aandui!”

Fiksheid is noodsaaklik vir ’n gholfspeler en jy sal haar nie sommer in ’n gholfkarretjie sien nie. Sy voel egter dat geestelike sterkheid nog belangriker is.

“Jy is soms tot 10 ure op die baan en dan help dit veel jou swaaihou is perfek, maar jou kop beïnvloed jou spel negatief.”

Elke gholfspeler het ’n swak dag - vra maar vir internasionale spelers soos Rory McIlroy of Tiger Woods, wat al ’n stok of twee die verte ingeslinger het – en daarom speel motivering ’n belangrike rol in enige speler se mondering.

“Ek haal in só n situasie net asem en ontspan - jy moet op jou hoede wees om iets te oordink. Dink so veel as wat jy wil gedurende jou oefenhou, maar as dit by die ware Jakob kom, moet jy net op die hou konsentreer. As jy eers ’n tantrum gegooi het, wil jy net aanhou. Dit is soos sigarette: bly net eerder  van die begin weg.”

Sy is vroeër die kwartaal tot MHS se leerlingraad verkies en die nuwe verpligtinge saam met die akademie kan haar lekker besig hou.

“Ek probeer egter ten minste steeds om drie keer per week toe oefen - het al in die verlede agtergekom dat wanneer jy jouself ooreis, jou spel daaronder kan ly. Rusdae is baie belangrik.”

Wat doen sy dan om te ontspan?
“Ek is baie lief vir my vriende en ek kuier graag saam met hulle. Is maar ’n tipiese tiener wat daarvan hou om televisie te kyk, na One Direction te luister, te slaap, koek te eet en om aan skoolaktiwiteite deel te neem.”

Maar dat sy ’n gholfbal kan slaan, is gewis. Sy beskou haar dryfspel as haar sterk punt en kan die bal oor die 270m-kerf slaan.

Sy is in Maartmaand as Bankenveld Gholfklub se vrouekampioen aangekondig. Hoewel die baan moeilik opgestel was, het sy koelkop gebly om met die titel weg te stap. Tog geniet sy dit ook om op Middelburg Buiteklub se baan te speel.

“Die 14de gat is my gunsteling daar. Ek het ’n lang dryfhou en dan kan jy maklik na net twee houe op die setperk mik.”

Botha is sedert 2013 lid van Middies se eerste gholfspan en sy geniet dit om saam die seuns te speel.“Ek hou egter nie baie daarvan as van ons teenstanders vir my sê dat ek die bal ver vir ’n meisie kan slaan nie. Jy speel óf goed óf sleg, maak nie saak wie jy is nie.”

Botha spog met ’n voorgee van ses en daar is letterlik nie meer plek in haar ouerhuis vir al die silwerware nie.

“Daar is nog bietjie staanplek langs ons TV en dalk op die gasverwarmer, maar dit word permanent omgestamp of gebreek as ons die verwarmer wil aansit!” vertel sy laggend.

Sy droom daarvan om na skool aan te hou speel en selfs professioneel te draai, maar vir eers konsentreer sy om haar beste vir die provinsie te gee.

“Dit is ’n groot voorreg om die IPT-span en die 72 Putjiespan te haal,” se die provinsie se nommereen-juniordogter.

Een ding is egter seker: die gholfbloubloed vloei sterk deur Chanelle Botha se are.

• Van haar gholfprestasies sedert 2013:

* Behaal ’n 12de plek by die US Kids European Championships in Skotland.

* Bankenveld Gholflandgoed se vrouekampioen in 2013 en 2015.

* Kampioen van Kampioene-wenner in 2013. Sluit al die vrouekampioene van die onderskeie klubs in die provinsie in.

* In 2012, 2013 en in 2015 is sy die geslote junior wenner by die Mpumalanga Vrouekampioenskap. Sy is ook die alghele naaswenner in die geslote afdeling.

* Een van 12 dogters in die land wat deur die nasionale afrigter, Vall Holland, gekies is om ’n talentidentifikasiekamp in Pretoria by te woon.

* Sy is Hoërskool Middelburg se gholfspeler van die jaar sedert 2012 én lid van die skool se eerste span vanaf 2013.

* Sy beklee tans die 31ste plek op die nasionale juniordogterranglys.

* Verteenwoordig Mpumalanga by SA Interprovinsiale Toernooie.

* In 2014 en in 2015 is sy een van drie vrouens in die provinsie wat by die 72 Putjie-kampioenskap in aksie is.