Visser onder beste snelboulers

Coenraad Visser Medium

Op skool word leerlinge deur afrigters aangemoedig om aan meer as net ’n enkele sportsoort deel te neem. Dit help om jou vaardighede te ontwikkel en wys dat jy sommer net pleinweg oor ball sense beskik.

Maar elke dan en wan kry jy ’n skoolsportster wat die veelsydigheidsdeur net ’n tikkie verder kan oopskuif. Dink aan AB de Villiers wat nie net ’n kookwaterkolwer was nie, maar ook as ’n Cravenweeklosskakel uitgedraf het en waarskynlik Affies se mees talentvolle tennisspeler was. Hier in Middelburg het ons vir Coenraad Visser.

Die 15-jarige Middie is die skool se junior sportseun van 2015 en het op die atletiek-, rugby-, hokkie- en krieketveld deur die jaar uitgeblink.

Hy het verlede naweek weer krieketkenners laat regop sit tydens ’n snelboulerkliniek wat deur die Titans aangebied is. Visser het tussen 1500 boulers (wat o/18-spelers ingesluit het) vierde geëindig.

Gedurende ’n spoedtoets is een van sy kartetse op 124km/h gemeet. Glad nie sleg vir ’n graad nege-speler nie, veral as jy in ag neem dat ’n Proteabouler soos Shaun Pollock vir lank in sy loopbaann teen min of meer dieselfde gemiddelde spoed geboul het.

Visser is deel van ’n sterk MHS o/15-krieketgroep wat spelers soos Arno Kruger, Gysbert Ehlers en kie insluit. Sy beste boulontleding hierdie seisoen is 4/37 en hy bieg dat hy deesdae meer op kolfwerk konsentreer.

In sy finale jaar by Laerskool Kanonkop het hy twee dubbele honderdtalle aangeteken en hy spog met ’n hoogste telling van 87 in die hoërskool.

Tog blink sy oë steeds opgewonde as hy oor sy boulwerk praat.

“My gunsteling aflewering was ’n wegswaaier wat die buiterand van die kolf getref het. Ek onthou hoe ons tweede glip ’n skitterende vangskoot benut het,” vertel hy Woensdagmiddag by sy ouerhuis in Dennesig.

Buiten sy krieketverpligtinge is hy ook die kaptein van die skool se o/15A-rugbyspan en hy droom om volgende jaar as o/16-speler die provinsiale Grant Khomospan te haal én vir die skool se eerste sewesspan uit te draf.

Voel hy dat sy veelsydigheid hom op die sportveld help?
“Atletiek help beslis met die fiksheid, terwyl hokkie baie vir my handoog-koördinasie op die kolfblad beteken.”
 
In die afseisoen (as daar so iets is) oefen hy by die Middies Sport Spesifieke Instituut en fokus tans op sy atletiekvaardighede.
 
“Dit help my om my bene sterker te maak en om my spoed en stamina te verbeter. Die MSSI ontwikkel jou volgens die spesifieke sportsoort.”         
 
De Villiers het al saam sy sangervriend, Ampie, ’n liedjie opgeneem, sal Visser ook só in sy Proteaheld se spore volg?
 
“Nee,” is sy baie vinnige antwoord. “Ek het in die laerskool in die koor gesing, maar nie meer nie!”
 
Sporttoerusting soos krieketkolwe raak al hoe meer tegnologies gevorderd. Maar jy moet ook onthou: skoolspelers word ook net beter.