Sy mag maar!

12472680 946748635380902 951848091347700275 n

Photo: Running South Africa

In 2015 het Magda Nieuwoudt vir Hoërskool Middelburg se sportsterre tydens hul prysuitdelingfunksie toegespreek. Die kern van haar boodskap was kragtig: as jy iets glo, kan jy dit doen en ’n sterk kop kan jou tot hoër hoogtes aanspoor, selfs al wil jou spiere handdoek ingooi.

Maar min mense doen wat hulle sê.

Nieuwoudt is egter een van die uitverkorenes.

Die MHS-sportwetenskaplike het die naweek ’n skitterende tweede plek in haar ouderdomsgroep (25-29 jaar) by die Ironman 70.3 in Oos-Londen behaal. Haar algehele tyd van 05:08:15 beteken dat sy ook tweede uit al die amateurvrouens, agtste uit die vroue-atlete (wat elite-deelnemers insluit) én 73ste uit 2665 deelnemers eindig.

Na ’n sterk swemvertoning - haar tyd van 30:46min is vinniger as dié van die uiteindelike kampioen én die bronsmedaljewenner - het sy die fietsrybeen in reënweer aangedurf.

“Die gladde pad het dinge bemoeilik en jy het gereeld gehoor hoe nóg ’n deelnemer val.”

Gedurende die trapsessie van 90.1km het Jade Nicole verby haar geflits. Dit is tóé dat Nieuwoudt besluit dat selfs al trap en draf sy haarself te pletter, sy sál vir Nicole inhaal. En in die daaropvolgende draf-afdeling het sy daad by woord gevoeg.

“Ek het van my ondersteuningspan gehoor dat ek net twee minute agter haar is. En toe gun ek. Sy was duidelik moeg en ek kon haar makliker inhaal.”

Die uiteinde?

Sy maak ongeveer sewe minute vinniger as Nicole klaar.

“Ek kon na die tyd omtrent nie regop bly nie. Ek wou loop, maar my bene wou nie saamspeel nie!”

“Dit is verstommend hoe jou mind jou liggaam kan uitdaag. Jy kan oefen so hard as wat jy wil, op die einde van die dag hang alles van jou wilskrag af.”

Ten spyte van al haar prestasies, is Nieuwoudt een van die nederigste mense wat jy kan ontmoet, en soos oudergewoonte is sy meer trots op die suksesverhale van ander deelnemers.

“Een meisie het die driekamp in ’n tyd van 08:35 voltooi en alhoewel sy besef het dat sy die afsnypunt met vyf minute gaan misloop, het sy steeds aangehou.

Dit is súlke mense wat die Ironman maak.”

Nóg ’n rede vir ’n Nieuwoudt-glimlag, is die feit dat haar tweelingsuster - Rika - haar eerse halfysterman suksesvol voltooi het.

“Ek het nooit besef dat die Ironman soveel pret is nie, tot ek al haar stories gehoor het van hoe sy met al die mense gedurende die race gesels het. Dit is heeltemal ’n ander perspektief. Ek moet bieg, ek was bekommerd oor haar, maar elke keer as ek haar sien, was daar ’n reuse glimlag op haar gesig!”

Die tweelingappel val duidelik nie ver van die Nieuwoudtboom nie en Rika het haar debuut-ysterman in ’n skaflike tyd van 06:30 kafgedraf.

Wat hou die toekoms vir Magda Nieuwoudt in?

“Ek wil aan soveel as moontlik kompetisies deelneem sodat ek my punte kan opbou. Ek wil graag in 2017 by die Wêreldkampioenskap in die Verenigde State van Amerika in aksie wees.”

Dan droom sy van ’n driekampklub in Middelburg.

“Daar is talle Middelburgers wat goed doen en ek wil die liefde vir die sport onder ander dorpenaars laat vlamvat. Ons moet sommer almal volgende jaar met ’n Middelburg-bussie gaan!”

Met haar nederige persoonlikheid, duidelike talent en ’n wilskrag wat skrik vir niks, kan Nieuwoudt nog baie hoogtes bereik. Jy kan haar maar gerus glo as sy jou skool kom toespreek. Sy weet waarvan sy praat.

• Die top drie vroue in die 25 tot 29-ouderdomsgroep:

  1. Kirsten Schut: 31:25min (swem); 02:36:48 (fiets); 01:38:09 (draf); 04:52:30 (algehele tyd).
  2. Magda Nieuwoudt: 30:46 (swem); 2:51:08 (fiets); 01:40:44 (draf); 05:08:15 (algehele tyd).
  3. Jade Nicole: 31:43 (swem); 02:47:46 (fiets); 01:48:07 (draf); 05:15:19 (algehele tyd).

• Sy bedank onder andere haar afrigter by Trifactri, Lucie Zelenkova en Hoërskool Middelburg.

“As dit nie vir MHS en mnr. (Johan) Stronkhorst se en ondersteuning en begrip was nie, sou ek nie kon deelneem nie.”