Viljoens is goue swemmers

viljoensswem1 Medium

Afrikaanse juffrouens sal vir jou sê dat dit taalkundig korrek is om die vergelyking “soos ’n vis in die water” te gebruik. Maar as jy na die swemprestasies van Johan en Stephani Viljoen kyk, kan ATKV-ringkoppe binnekort dié sêding na “soos ’n Viljoen in die water” verander.

Want dié broer-en-suster-kombinasie van Hoërskool Middelburg is besig om ’n storm in die provinsie se swembaddens los te swem.

Die 16-jarige Johan het tydens die afgelope Mpumalanga Gala by die Kees Taljaard Stadion drie goue medaljes in die 50m vry-, 50m bors- en 50m vlinderslagitems behaal. Sy 13-jarige sussie was egter op die herstelpad na pampoentjies en moes die byeenkoms misloop.

Die twee swem al ’n hele paar jaar saam en die prestasies bly inrol.
Stephani het vir die Junior Nasionale Kampioenskap in Aprilmaand gekwalifiseer en het by die SA Skoolkampioenskap ’n goue medalje en drie silwers ingepalm. Johan het by dieselfde kampioenskap goud in die 50m vlinderslag gekry.

Hulle oefen ses dae per week saam Uniswim by Virgin Active en spandeer tot drie ure per dag in die swembad.

“Dit is lekker om saam te oefen en ons motiveer mekaar,” laat Johan Dinsdag by MHS hoor.

“Daar heers gesonde kompetisie en ons probeer om mekaar aan te spoor om vir verskillende kampioenskappe te kwalifiseer.”

Maar wie is die vinnigste tussen die twee?

“Ek is die vinnigste, maar as jy dit ouderdomsgewys benader, is dit beslis Stephani,” sê Johan terwyl hy trots na sy suster kyk.
Johan se sterk punt is vlinderslag, terwyl Stephani ’n kranige borsslagswemmer is.

“Vlinderslag is ’n moeilike styl en dit gaan alles oor jou ritme as swemmer. Jy kan byvoorbeeld nie net vir die eerste keer in die swembad spring en begin vlinderslag swem nie. Met borsslag is dit weer belangrik om so min as moontlik weerstand te hê terwyl jy deur die water klief.”

Die twee verkies ook swem bo enige ander sportsoort.

“As jy swem kry nie rerig warm nie, dit is altyd lekker koel. Verder kry jy nie sommer enige beserings nie,” sê Stephani.

“Dit gee jou ook ’n mooi lyf!” voeg Johan laggend by.

Stephani mik na nóg ’n nasionale tyd, terwyl Johan vir die Senior Nasionale Kampioenskap wil kwalifiseer.

Die Viljoen-gesin het ’n paar jaar gelede saam Kilimandjaro uitgeklim en as die broer-en-suster-kombinasie op hul prestasies voortbou, kan hul swemprestasies selfs ’n groter avontuur inhou.

• Hulle helde:
Johan: Die Amerikaanse swemmer, Michael Phelps.
Stephani: Is ook ’n Phelps-ondersteuner, maar Suid-Afrika se Chad le Clos is ook op haar lys.

• Die twee se vinnigste tye:
Johan (50m):
Vryslag: 25.28s
Vlinderslag: 26.66s
Borsslag: 33s
Stephani (50m):
Borsslag: 36s
Vryslag: 28.76s
Rugslag: 34s
Vlinderslag: 30s

• Stephani sal eendag ’n Ironman wil doen, terwyl Johan al agt items van die Midmar Myl wil swem.