Chef se nalatenskap ‘n wenresep

Gert van der Westhuizen koshuishoofToe die eindfluitjie verlede naweek in die halfeindstryd van die Mpumalanga Makroskoolliga blaas, was dit die laaste keer dat Gert van der Westhuizen as die hoofafrigter van Hoërskool Middelburg se eerste rugbyspan van die veld stap.

Ná 34 jaar as afrigter, waarvan 16 as hoofbreier van Middies se eerste rugbyspan, gaan dié 58-jarige aan die einde van 2016 die onderwys weens mediese redes verlaat.

Vir 'n skoolafrigter is sukses belangrik. Vir 'n goeie skoolafrigter is 'n speler se ontwikkeling belangriker.

Met ander woorde, jy is nie net die afrigter tydens oefensessies, of vir die 70 minute van 'n wedstryd nie. As jy 'n goeie afrigter wil wees, moet jy besef dit is 'n voltydse beroep – 'n konsep wat Van der Westhuizen waarskynlik reeds vroeg in sy loopbaan gesnap het.

Wanneer 'n speler met 'n probleem gesukkel het, was Van der Westhuizen – of "Chef" soos hy bekend staan – dikwels die eerste persoon na wie daar gehardloop word. 'n Bewys dat 'n breier nie alleenlik oor wedstrydplanne op die rugbyveld moet tob nie, maar ook aan goeie verdedigingstrategieë moet dink om alledaagse probleme waarmee 'n leerling mag sukkel, te troef.

Onder sy toesig het MHS nie net hul hertoetrede tot die makroskoolliga gevier nie, hulle het óók presteer. Die eerste span het vir 'n hele paar agtereenvolgende jare in die Mpumalanga-eindstryd gespeel. 'n Prestasie wat, as jy die skool se seunsgetal in ag neem, glad nie te versmaai is nie.

Dan was hy aan die stuur van sake toe MHS vir die eerste keer in jare vir HTS Middelburg in 2009 gewen het – 'n kragmeting wat hy steeds as sy gunsteling beskryf.

Maar sy beste jaar – as jy oor prestasies wil praat – was waarskynlik in 2012.

Met spelers soos Seon de Jager, Pieter Jordaan, Anele Blaauw, Jacques le Roux en Christopher van Leeuwen tot sy beskikking, het Van der Westhuizen en kie die Mpumalangakroon gedra én tot die halfeindstryd van die Beeldtrofee deurgedring, waar hulle naelskraap 27-32 teen Kemptonpark verloor het.

Die goeie jaar het daartoe bygedra dat hy in 2013 as die Cravenweekafrigter aangewys is en sommer met sy eerste probeerslag derde by dié nasionale week geëindig het.
Sy groot sterk punt as afrigter is egter om sy span tot 'n hegte eenheid saam te snoer en spelers te motiveer om bo hul vermoë te speel. Dink aan bykans elke Classic Clash en die 2014 Cravenweekstryd teen die Westeklike Provinsie, waar die Pumas 'n reuse rustydagterstand uitgewis het om so byna (32-33) te wen.

Tog is die lewe van 'n afrigter 'n wipplankstryd en dinge loop nie altyd seepglad nie.

As Cravenweekafrigter kon hy nie weer dieselfde hoogtes as in 2013 bereik nie en 'n tweede derbydag-sege het hom steeds ontwyk, maar MHS vier hul 100ste bestaansjaar in 2018 en Van der Westhuizen sal beslis 'n ereplek op die skool se houtdek kry wanneer Middies die Rooies op hul tuisveld pak.

Om jou finale wedstryd 20-67 te verloor, is dalk nie die beste vaarwelgeskenk nie, maar een swaeltjie maak nie die somer nie. Net so definieer 'n wedstryd nie 'n loopbaan nie.

En Gert van der Westhuizen laat 'n nalatenskap agter waarop hy én die skool kan trots wees.

Hy was, en is, 'n baie goeie afrigter.

• Sy gunsteling herinnering:
"Definitief die 2009-derby toe ons 33-10 gewen het. As 'n speler 'n herinnering saam met hom moet neem, dan is dit sonder twyfel die wedstryde teen HTS Middelburg. Ek onthou hoe die Adendorff-broers mekaar ná die wedstryd spontaan omhels het en al die ondersteuners op die veld gehardloop het. Dit het my 30 minute geneem om oor die veld te stap!"

• Beste MHS-spelers wie hy afgerig het:
"Dit sal spelers soos Seon de Jager en Jacques Verwey wees. Ek dink steeds nie hulle het die erkenning gekry wat hulle verdien nie, maar hulle het uitstekend gespeel."

• Hy heet "Chef" te danke aan sy behendigheid agter die kospotte.

• Van der Westhuizen se posisie as adjunkhoof en koshuisvader word deur Queen's College se Dave Osborn gevul.