‘n Toonbeeld van ‘n gesonde lewe

M4 LL ZN

As jy die toonbeeld van ’n gesonde lewe wil sien, hoef jy nie verder as Magda Nieuwoudt te soek nie.

Nie net het hierdie jong vrou ’n gesonde liggaam nie, maar huisves sy ook ’n gesonde gees, hart, siel en buitengewone sterk kop.

Magda is ’n sportwetenskaplike by Hoërskool Middelburg en ’n aspirant driekampatleet wat op pad is om ’n professionele driekamper te word.

Van haar prestasies sluit in die 2015 Ironman 70.3 wêreldkampioenskap in Oostenryk waar sy 33ste in haar ouderdomsgroep gekom het, haar onlangse oorwinning tydens die MiWay SunCity Ultra en nog vele meer.

Magda het ’n BSc graad in Menslike Bewegingskunde en Voeding, en honneursgraad in BSc Sportwetenskap wat sy aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf het.

Die Get It het met Magda gaan gesels oor ’n paar van haar geheime oor ’n gesond te lewe.

“Van kleins af het die menslike liggaam my geïnteresseer en wou ek gesond lewe. Toe ek nog baie klein was, het ek altyd die hoender se velletjie afgehaal en sou dit nie eet nie – dit was nou voor ek die lae koolhidraat en hoë vet leefstyl begin volg het,” lag Magda.

Nog nooit kon jy haar bederf met ’n wegneemete of uiteet nie.

“Ek onthou dit nog so goed. Ek’t in Christiana grootgeword – ’n baie klein dorpie in die Noordwes – en daar was nie eers uiteetplekke nie. So, wanneer my ma-hulle die eenkeer iewers heen wou ry om te gaan uiteet, was ek dadelik kwaad.”

Van graad vier af het Magda elke maand die Runner’s World ontvang en het dit gelees soos haar tweede Bybel.

“Al die fisiologiese inligting het my fassineer. Wat om te doen, wat om te eet en wat nie. Ek dink ek het onbewustelik reeds besluit dat ek eendag fisiologie en voeding sal gaan studeer.”

Magda en haar tweelingsussie het letterlik langs die sportveld grootgeword en daar was nie een naweek waar hulle nie by ’n sportbyeenkoms was nie.

“Hoe jy grootword het beslis ’n invloed op jou lewe en ek glo dit het bygedra tot my keuse van ’n gesonde lewe. My twee ouers broers het rugby gespeel en ook tweekamp gedoen, so ons was elke naweek by een of ander sport.”

Magda het ook nog altyd self sport gedoen en het reeds in graad 6 besluit dat sy ernstig gaan begin oefen en eendag wil kompeteer in sport.

“Ek het elke liewe dag voor skool gaan hardloop en elke liewe middag na skool ook geoefen. Ek sou self my laaste periode by die skool mis om te gaan oefen, want netnou oefen iemand meer as ek,” vertel Magda laggend.
Saterdae sou sy rugby kyk saam met haar gesin en Sondae was haar ‘rusdag’.

“Ons het elke Saterdag rugby gekyk en sodra dit halftyd is, sou ek dan gou in daardie 10 min my drie kilometer roete gaan doen het. Sondae het ek ‘gerus’ wat behels het dat ek ’n easy run gaan doen het. As jy gesond wil wees, moet jy bereid wees om werklik hard te werk en meer te doen.”

Magda sê jy moet die liggaam ken en verstaan as jy werklik goed wil oefen.

“Ek het op universiteit die teorie vinnig deurgegaan en dan dadelik daarna gaan oefen. Soos ek geoefen het, het ek vir myself gesê wat nou presies met my liggaam gebeur.”

Magda oefen deesdae by Trifactri, ’n driekampoefengroep wat deur die professionele driekamper, Lucie Zelenkova, afgerig word. Haar droom is om eendag ’n professionele driekamper te wees en sy oefen elke week tussen 20-27 ure – dit is nou terwyl sy ’n voltydse werk het en naweke op die sportveld moet wees vir die leerlinge.

“Jy moet nooit sê jy’t nie tyd om te oefen nie. Alles in die lewe is op tyd en juis daarom sal jy alles kan inpas. Dit is vreemd hoe baie jy kan doen as jy eers bewus word van tyd.”

’n Gesonde lewe is vir Magda so eenvoudig soos ’n besluit wat jy neem.

“Moenie te veel daaroor redekawel nie. Besluit dit en doen dit. Op die ou einde gaan dit eintlik oor jou gees wat gesond is. Daar is niks lekkerder as om gemaklik te voel in jou eie self nie. As jy gemaklik is in jou eie self, kan jy enigiets in die lewe doen.”

Maar ’n mens bly maar ’n mens sê Nieuwoudt en vertel dat sy wel ’n swakpunt vir kondensmelk en koekies het.
“As ’n mens wil kroek, doen dit, maar sorg dat jy so vinnig as moontlik daarna gaan draf!”

Magda ontspan wel ook graag wanneer sy ’n tydjie kry en, glo dit of nie, sy is ’n groot aanhanger van die kunste.

“Gee vir my ’n smaakvolle toneelstuk of musiekvertoning, en ek ontspan heerlik. Maar my gunsteling is om blokkiesraaisels in te vul met ’n glas goeie rooiwyn in die hand – vir die antioksidante, jy weet.”

Magda glo dat sy op 80-jarige ouderdom steeds aan die Ironman sal deelneem en som die besluit om gesond te lewe soos volg op:

“Vra jouself af of jy volheid wil lewe tot op jou oudag. Dit wat jy eet, kan of sleg of goed wees vir jou liggaam. Jy word ouer en sal sterf omdat jou liggaam degenereer, so jy wil alles in jou vermoë doen om daardie proses te vertraag.

Genoeg slaap, reg eet, oefen en jou Godsdiens moet alles in balans wees om gesond te kan lewe.”