Paaltjiewagterwees pas Arno soos ’n handskoen

kruger2 Medium

Blaai deur enige ou kriekethandleiding en jy sal waarskynlik ’n hoofstuk of twee oor die belangrikheid van ’n paaltjiewagter raaklees. Dikwels is dié speler se naam onder die eerstes wat ’n afrigter op sy spanlys neerpen.

En danksy die blitzkrieg van ’n Romesh Kaluwitharana (dink aan die 1996 Wêreldbeker), die ongelooflike sesslaan-vaardighede van ’n Adam Gilchrist en die talent van ’n Quinton de Kock, word die moderne paaltjiewagter nie uitsluitlik vir sy behendigheid agter die paaltjies gekies nie, maar óók vir sy vaardigheid met die kolf.

Tóg verminder ’n paar verbroude vangkanse die euforie van ’n vyftigtal – vra maar vir Engeland as Jonny Bairstow se heldedade met die wilgerlat gereeld geneutraliseer word as hy letterlik die bal agter die paaltjies laat val het.

Gelukkig spog Hoërskool Middelburg met ’n paaltjiewagter wat nie nét met die kolf uitblink nie (sy hoogste telling is 125), maar óók ’n veilige vesting agter die paaltjies is.

Die 16-jarige Arno Kruger speel al vir die afgelope twee jaar vir Middies se eerste krieketspan en daar word nie gereeld oor verbroude vangkanse gebrom nie. Inteendeel, hy het al vier kolwers in een beurt na die kleedkamer teruggestuur – ’n rekord wat glad nie te versmaai is vir ’n skoolspeler nie.

Snaaks genoeg was hy nie altyd ’n paaltjiewagter nie en hy het nog op laerskool ’n paar draaiballe afgestuur. Dit was eers op hoërskool waar hy vir die eerste keer sy groen Kookaburra-handskoene aangetrek het. ’n Stap waaroor hy glad nie spyt is nie.

“Jou voetwerk is baie belangrik. Maar die sukses van ’n paaltjiewagter is eintlik doodeenvoudig: jy móét heeltyd die bal dophou,” sê hy Dinsdagoggend by die skool.

En anders as die meeste binnenshuise krieketkrygers wat op ’n Donderdagaand ’n paar groot houe saam ’n paar groot slukke Castle kombineer, kan hy ’n draaier se variasies vanuit sy hand lees. Hiervan getuig talle stonkkanse van die boulwerk van Aiden Vandenbrouck en David Blenkinsop.

Hy speel al van sy o/10-dae op Delmas vir die provinsiale spanne en sy trotste oomblik vir MHS was toe die span vroeër vanjaar die provinsiale Pro20-titel gedra het.

Wie is die vinnigste bouler in die Middiespan?

“Moeilike vraag. Ek dink dit is tussen Andrew Martin en Donovan McDonald. Maar Andrew se aflewerings tref die handskoene net ’n tikkie harder.”

Die provinsiale proewe word hierdie naweek by Rob Ferreira aangebied en Kruger droom daarvan om eendag die Coke o/19-span te haal.

Talent en tyd is aan sy kant.

• Middies se hoogtepunte op die krieketveld die afgelope naweek:

* Die o/14’s klop HGH met agt paaltjies te danke aan ’n spogboulvertoning waar hulle die span van eMalahleni vir 52 uitgeknikker het.

* Jandré de Klerk se vier paaltjies het gesorg dat die skool se derde krieketspan vir die Rooies met vier paaltjies ore aansit.

* Die tweede span troef vir Delmas se eerste span met ses paaltjies. Jean Lombaard het ’n indrukwekkende boulontleding van 6/10 in sewe boulbeurte, terwyl Craig Russel ’n blitsige 41 van 20 aflewerings gemoker
het.

* MHS se eerste span klop HTS Middelburg se Rooipette met 97 lopies. Elnu Potgieter het ’n kapteinsbeurt van 67 gespeel en is goed deur Aiden Vandenbrouck se 49 geondersteun.

Potgieter het daarna sy goeie spelpeil met die bal voortgesit en spog met ’n boulontleding van 5/29 ná 10 boulbeurte. Vandenbrouk het weer eens uitgeblink en 3/19 in nege boulbeurte geneem.

* Die eerste span se volgende wedstryd is op 10 September teen Rob Ferreira.