Nuwe era vir MHS

sarel Medium Small Custom

25 Februarie 2017 sal die begin van ’n nuwe era in Hoërskool Middelburg se rugbygeskiedenis wees.

Met Gert van der Westhuizen (jarelange afrigter) wat die onderwys weens mediese redes verlaat, sal Middies se eerste span met ’n splinternuwe afrigter spog wanneer hulle op dié dag teen Ermelo in ’n vriendskaplike tuiswedstryd uitdraf.

En dié afrigter is Sarel Bosman.

Die 40-jarige Bosman se afrigtersloopbaan het by Hoërskool Bastion in Krugersdorp begin, waar hy die hulpafrigter van die skool se eerste vyftiental was.

“Dit is ironies dat my liefde vir afrigting juis hier deur ’n MHS-legende,Hennie Fencham, gekweek is. Daarna was ek vir agt jaar in Engeland by Queen Elizabeth Boys High betrokke,” laat weet hy vroeër die week.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy onder andere saam met die Rooies se Jaco Espach die eerste span van Hoërskool Wagpos in Britz gebrei. Meer onlangs was hy verantwoordelik vir die welslae van Hoërskool Florida se o/14’s en eerste span.

Deursigtigheid, dissipline en spanwerk is die eerste drie woorde wat hy gebruik om sy sterk punte as afrigter te beskryf. Nóg ’n goeie Bosman-aspek is dat hy gewillig is om by ander te leer - iets wat op aanpasbaarheid dui.

So van aanpassing gepraat - onder Van der Westhuizen se toesig is daar ’n eerstespankultuur by MHS gevestig en die span is bekend vir hul tradisionele hardlooprugby. Gaan Bosman by dié formule bly of gaan hy eerder sy eie stempel afdruk?

Dit lyk egter of hy ’n balans wil vind tussen die twee.

“Ek is iemand wat baie waarde heg aan tradisie en sien geen rede waarom mens die wiel van vooraf moet uitvind nie. Tog moet mens aanpasbaar wees omdat elke span verskillende sterk punte en uitdagings het. In my opinie is rugby in elk geval besig om só te verander, dat hoë risko en aanskoulike hardlooprugby binnekort die norm sal word. Daar sal egter altyd plek wees vir ’n ‘ou grote’ in die span.”

Bosman het self vir die PUK uitgedraf, maar ’n skouerbesering het sy speeldae kortgeknip. Hoewel hy die nommertwaalftrui gedra het, verstaan hy die waarde wat ’n sterk pak voorspelers tot ’n span kan byvoeg.

“Sonder die bal kan agterspelers nie aanval nie en die proses om die bal te bemeester, begin gereeld in die enjinkamer.”

Wat sou hy as die perfekte drie beskryf?

“Enige oefenveldbeweging wat in ’n wedstrydsituasie vrugte afwerp, is vir my baie lekker. Maar dan voel ek ook dat ’n stut se drie 10 punte behoort te tel!”

Die derby tussen MHS en HTS Middelburg is een van die hoogtepunte op Middelburg se sportkalender en Bosman is gereed vir die aksie wat dié dag bied. Florida se derby was teen Marais Viljoen, maar die jaarlikse kragmetings teen Monument sou gesorg het dat hy genoeg ervaring in dié drukkokersituasies het.

Maar vir eers sien hy uit na sy tyd by Hoërskool Middelburg.

“Hulle sê as jy eers Middelburg se water gedrink het, is jy gehook.”

Die Sarel Bosman-era begin oor ’n paar weke. En Middie-ondersteuners sal hoop dat dié era sukses oor ’n lang tydperk sal verseker.

• Van Bosman se hoogtepunte:
“In Engeland het my span teen Prins Harry se Eaton College gespeel. Dit was nogal snaaks om dié adellike rooikop te sien swoeg op die rugbyveld!
Dan was die Beeldkwarteindstryd teen Affies ook ’n hoogtepunt.”

• Oor sy doelwitte by MHS:
“Om elke rugbyspeler en elke span tot die beste van my vermoë af te rig en te ontwikkel.”

• Middies se bepalings vir 2017:
25 Februarie teen Ermelo (vriendskaplik)
3/4 Maart teen Oosterlig (PUK)
10/11 Maart teen Lichtenburg (PUK)
24/25 Maart teen Wesvalia (PUK)
21/22 April: PUK-kwarteindstryde
26/27 April: PUK-halfeindstryd
5/6 Mei: PUK-finaal
13 Mei teen HTS Middelburg
27 Mei teen Nelspruit